Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Slagoffers van 2004 se tsoenami gedenk

Mense in Asië het Donderdag die 230 000 slagoffers herdenk wat 15 jaar gelede in ’n tsoenami omgekom het. In 2004 het ’n aardbewing met ’n krag van 9.1 noord van die eiland Sumatra voorgekom en die oggend ná Kersdag daartoe gelei dat reuse-golwe van so hoog as 17,4 m aan die kuslyne van Indonesië, Sri Lanka, Indië, Thailand en nege ander lande verwoesting saai.

Blomblare word by die Marinastrand in Chennai, Indië, in die water gegooi tydens ’n gebedsdiens vir die slagoffers wat in die tsoenami omgekom het. Foto: Reuters

‘Dit spook steeds by my’

“Dit spook steeds by my . . . Ek dink altyd daaraan,” sê Suwanee Mailwan (28), wat albei haar ouers en nog vyf familielede verloor het toe die tsoenami die Thaise provinsie Phang Nga getref het.

“Soms droom ek ’n golf is op pad. Ek is steeds bang. Ek wil graag verhuis, maar dit is nie moontlik nie.”

Gedenkdienste is in die Indonesiese provinsie Aceh gehou. Daar het die reusagtige golwe klein dorpies platgevee en meer as 125 000 mense ingesluk.

15 jaar later is die gebied grotendeels herbou, met meer as 25 600 woon-, kommersiële, staats- en skoolgeboue wat herbou is in die hoërisiko-sone wat in 2004 feitlik heeltemal verwoes is.

In Thailand, waar meer as 5 300 mense dood is – onder andere toeriste wat vakansieoorde in die Andamansee besoek het – is gedenkdienste gehou en amptenare het ’n beroep gedoen vir beter bewusmaking van moontlike rampe en gereedheid daarvoor.

’n Meisie bid tydens ’n gebedsdiens vir die slagoffers wat in die 2004-tsoenami gesterf het. Foto: Reuters

“Die regering wil die veiligheidstandaarde verhoog . . . groter bewusmaking skep in alle sektore in voorbereiding en hoe om mense in sulke rampe te beskerm,” het Nipon Bunyamanee, die adjunkminister van binnelandse sake, gesê. 26 Desember sal voortaan as die nasionale dag vir die voorkoming van ongelukke bekend staan.

Later die dag het amptenare kranse by die gedenksentrum in die Phang Nga-provinsie gelê ter ere van Bhumi Jensen, ’n neef van die koning, Maha Vajiralongkorn, wat in die tsoenami omgekom het.

’n Intergeloof-byeenkoms vir Moslems, Christene en Boeddhiste is ook gehou.

Oorlewendes van Ban Nam Khem, die dorpie in Thailand wat die ergste deurgeloop het, het die aand ’n kerswaak gehou. Minstens 1 400 mense is in dié vissersdorpie dood.

In Indië, waar meer as 10 000 mense dood is, is ook gedenkdienste gehou. Meer as 35 000 is ook in die tsoenami in Sri Lanka dood. – Reuters

Terugblik op 2004: Boeddhistiese monnike stap deur die verwoeste dorpie Ban Nam Khem in Thailand. Foto: AP
Terugblik: In dié foto wat op 5 Januarie 2005 geneem is, probeer Nataya Pumsi (36) besluit wat om te doen met dié vissersboot wat weens die tsoenami op haar huis in die Ban Nam Khem-gemeenskap in die suide van Thailand beland het. Foto: AP
’n Vrou bid by ’n massagraf vir slagoffers in Banda Aceh, Indonesië. Foto: AP

Meer oor:  Sri Lanka  |  Indië  |  Thailand  |  Indonesië  |  Tsoenami  |  Slagoffers  |  Gedenk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.