Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Sluipmoord is ‘meevaller’ vir Iran, sê Britse kenner

Die sluipmoord op Iran se genl.maj. Kassem Soleimani in Irak was ’n “meevaller” vir sy vaderland.

Dit is die mening van dr. Sanam Vakil, ’n adjunkdirekteur van die gesaghebbende Britse navorsingsinstituut Chatham House in Londen.

Sy sê die sluipmoord het plaasgevind in ’n tyd wat Iran onder baie groot binnelandse druk asook uit ander lande in die Midde-Ooste verkeer.

Vakil skryf op Chatham House se webwerf dat die Amerikaanse sluipmoord die regering van Iran help om weg te beweeg van die narratief dat hy binnenslands swak is tot een dat hy magtig is.

Grootskeepse betogings teen Iran het in November verlede jaar in Irak en Libanon voorgekom. Dit het daartoe gelei dat Iran streng teen sy eie mense opgetree het.

Iran se pres. Hassan Roehani lei Woensdag ’n vergadering van sy kabinet in Teheran, die hoofstad. Foto: Getty Images

Volgens Vakil het die beelde van die groot massas mense wat Soleimani se begrafnis in Iran se stede bygewoon het ’n unieke geleentheid aan dié land gegee om sy mobiliseringspotensiaal ten toon te stel.

Dié potensiaal is nie net beperk tot Iran nie. Dit was ook in Irak en Libanon duidelik dat Iran die vermoë het om mense oor grense heen te mobiliseer.

Oud-ambassadeur Gert Grobler, ’n veteraan- Suid-Afrikaanse diplomaat wat in sy loopbaan wêreldwyd diens gedoen het, sê die sluipmoord sal gewis tot verhoogde spanning in die Midde-Ooste lei.

Dit sal ook wyer negatiewe internasionale veiligheids- en ekonomiese gevolge inhou, waarby onder meer sleutellande in dié streek soos Saoedi-Arabië en selfs Israel ingetrek kan word.

“Daar sal nog lank deur regerings en kenners gedebatteer word oor die wetlikheid en die moontlike politieke en ekonomiese gevolge van die aanval op Soleimani op Irakse grondgebied,” sê Grobler.

Hy help tans in China met die opleiding van Chinese diplomate.

“Iran gaan tans reeds deur ’n kwesbare en onsekere fase van ’n politieke en ekonomiese warboel wat onder meer aan die Amerikaanse sanksies toegeskryf kan word.

“Soleimani was ’n besonderse persoonlikheid in Iran en hy het hom as een van ajatolla Ali-Chamenei (Iran se opperleier) se nouste vertrouelinge laat geld.”

Grobler meen die kommerwekkende aspek is moontlike wraakaanvalle uit onder meer Iran, Irak en ander lande wat Iran goedgesind is.

Dit het reeds begin toe Iran Woensdag in die vroeë oggendure missiele op twee Amerikaanse weermagbasisse in Irak afgevuur het.

“Daar is talle opsies om wraak te neem, wat nie net die Midde-Ooste nie, maar ook ander wêrelddele in die afsienbare toekoms ’n minder veilige plek kan maak,” meen Grobler.

“Irak, wie se territoriale soewereiniteit en integriteit met die uitskakeling van Soleimani ’n stewige Trump-dwarsklap gekry het, sal ook onvermydelik op stappe teen die VSA besluit.

“Dit kan tot die moontlike uitsetting van die 5 000 Amerikaanse soldate in Irak lei.

“Met die toenemende chaos in Irak en die groeiende terugkeer van djihadi-militantes na dié land, mag Trump dalk met die teenoorgestelde veiligheidsituasie sit as wat hy aanvanklik met die uitwissing van Soleimani in gedagte gehad het.”

Grobler sê Suid-Afrika en Afrika sal uiteraard ook negatief deur die verhoogde spanning in die Midde-Ooste geraak word. Die spanning tussen die VSA en Iran sal ook onvermydelik ekonomiese gevolge hê. Verhoogde oliepryse is een daarvan.

’n Voormalige senior offisier in die spesiale magte van die ou Suid-Afrikaanse weermag, wat gevra het om anoniem te bly, sê Iran sal dom wees as hy die Amerikaners op militêre gebied wil pak.

“Iran staan geen kans teen die Amerikaners nie. Nie net het die Amerikaners gevaarliker wapens as die Iraniërs nie, maar ook sy militêre teenvermoë is superieur.”

Die offisier sê as hy Iran was, sou hy hom eerder wêreldwyd op sogenaamde sagte teikens toegespits het.

“Dit is die enigste manier om die VSA op sosiale en politieke terrein om te krap.”

Meer oor:  Kassem Soleimani  |  Vsa  |  Iran  |  Irak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.