Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Sluipmoord lui ‘nuwe era van tegnologiese terreur in’

Dit ís moontlik om ’n masjiengeweer aan ’n rekenaar te koppel, dit met gesigherkenning-sagteware te koppel en dan ’n moord te pleeg sonder dat ’n hand mik óf die sneller trek.

Die voertuig waarin Mohsen Fachrizadeh in ’n sluipmoordaanval gesterf het.

Maar as dít is hoe die sluipmoord op die Iranse kernwetenskaplike Mohsen Fachrizadeh op 27 November gepleeg is, was dit ’n wêreld-eerste.

Fachrizadeh, hoof van navorsing en innovering van die Iranse ministerie van verdediging, is verlede maand langs sy vrou doodgeskiet terwyl hulle in sy motor deur die dorpie Absard gery het.

Tasnim, ’n Iranse nuusagentskap, het ná die moord berig die masjiengeweer was agterop ’n bakkie gemonteer, aan ’n rekenaar gekoppel en toe gelaat om die skietwerk te doen sodra die sagteware Fachrizadeh se gesig herken. Nuusmedia wêreldwyd het oor die aanspraak berig, maar tot nou kon die storie deur geen bron buite Iran bevestig word nie.

Pieter Geldenhuys, die direkteur van die Instituut vir Tegnologie, Strategie en Innovering aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê met vandag se tegnologie is so ’n sluipmoord beslis moontlik.

“As die berigte waar is, was hierdie voorval, sover my kennis strek, die eerste geval waar ’n wapen op ’n individu geteiken was en die wapen outonoom die besluit geneem het om die persoon dood te maak,” sê Geldenhuys.

Hy sê Fachrizadeh se sluipmoord lui “dalk ’n nuwe era van tegnologiese terreur in”.

“Om ’n outonome geweer te bou wat met gesigherkenning-sagteware werk, is vandag nie net moontlik nie, dit is ook relatief bekostigbaar. Jy hoef nie meer ’n nasiestaat te wees om dit te kan bekostig nie.”

Volgens Geldenhuys kan ’n mens ’n Raspberry-programmeringsrekenaar, skaars groter as ’n pakkie sigarette, vir R2 000 koop en dit toerus met gesigherkenningsagteware met ’n akkuraatheid van 99,38%.

“Jy voer dan die rekenaar met ’n hoëresolusiefoto van die teiken en koppel dit aan die vuurwapen. Goeie gesigherkenningsprogramme gebruik tot 68 kenmerke van die teiken se gesig om hom te eien,” sê Geldenhuys.

Wanneer sagteware die teiken herken, aktiveer dit die vuurwapen, maar dis hier waar dit ietwat ingewikkelder raak. Daar sal harde- en sagteware moet wees om die loop in die regte rigting te swaai. Nes gesigherkenning is outonome wapens nie ongekend nie.

“Die Cruise-missiel het kleiner outonome missiele wat op sy roete losmaak van die moeder-missiel en vanself radar-installasies en gevegsvoertuie kan teiken, maar dit is nooit teen individue gebruik nie.

“Krygkor het destyds ’n ‘slim’ landmyn gemaak wat via radar en vibrasies kon onderskei tussen gevegsvoertuie van die vyand en burgerlikes,” sê Geldenhuys.

Niemand het nog verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar nie.

Meer oor:  Iran  |  Terreur  |  Sluipmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.