Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Só huldig William, Harry oupa Philip op hul eie manier

Prins William en prins Harry het Maandag minute ná mekaar, maar op verskillende wyses, hulde aan hul geliefde oupa Philip Mountbatten-Windsor gebring.

Die feit dat hul afsonderlike verklarings só kort ná mekaar uitgereik is, gee ’n sprankie hoop dat die hartseer oor hul oupa se dood tot ’n versoening tussen die twee seuns van prins Charles en die ontslape Diana sal lei.

William se verklaring fokus op sy oupa se pligte en jare lange diens aan die monargie, sy land en die koningin, terwyl Harry se verklaring meer informeel is en na sy oupa wat met ’n bier in die hand staan en sy “granny” verwys.

Dié pragtige foto van prins Philip en prins George is saam met prins William se verklaring uitgereik. Catherine, hertogin van Cambridge, het die foto geneem. Prins George was twee toe die foto geneem is. Foto: Twitter/The Duke and Duchess of Cambridge

William se verklaring is tekenend van sy toekoms as ’n volgende Britse monarg, terwyl Harry se verklaring baie meer informeel en persoonlik is.

Prins Philip se dood Vrydag het Harry genoop om so vinnig as moontlik uit Amerika na Londen te vertrek sodat hy die koronavirusregulasies kan nakom én Saterdag saam met sy pa, prins Charles, en broer agter sy oupa se stoet kan stap.

Die verwagting dat Harry soos sy oupa met sy verpligtinge teenoor die monargie sou voortgaan, het verlede jaar aan flarde gespat toe hy en sy vrou, Meghan, aangekondig het dat hulle as senior koninklikes gaan terugstaan.

Prins William het in sy verklaring na sy oupa se onbaatsugtige diens aan Brittanje, die koningin en sy familie verwys. Foto: Getty Images

Philip se jare lange vriend en skrywer van ’n boek oor die prins, Gyles Brandreth, het Maandag eksklusief in Daily Mail geskryf dat Philip teleurgesteld was oor Harry se besluit, maar begrip gehad het vir sy kleinseun se minagting vir die media en gesê het dat dit Harry se lewe is en dat hy kan doen wat hy wil. Hy het ook gedink dat Harry en Meghan se onderhoud met Oprah Winfrey “malligheid” is en dat “niks goeds daaruit kan voortspruit nie”.

William het in sy verklaring, wat net onder sy monogram uitgereik is, geskryf dat sy oupa se lewe gekenmerk was deur sy diens aan sy land, die Statebond, sy vrou, die koningin en “ons familie”.

Hy het, soos hy reeds voorheen in ’n toespraak opgemerk het, verwys na sy oupa wat ’n navolgenswaardige voorbeeld was wat hy en Catherine wil navolg. William het jare gelede in ’n toespraak gesê hy hoop hy en Catherine kan so gelukkig getroud wees soos die koningin en Philip. Die egpaar het verlede jaar in November hul 73ste huweliksherdenking gevier.

’n Foto van Philip en prins George as kleuter in ’n perdekarretjie – ’n sport wat Philip in Brittanje help vestig het – is saam met William se verklaring uitgereik.

“Ek sal nooit die spesiale herinneringe – van my oupa wat my kinders in sy perdekarretjie kom oplaai sodat hulle sy aansteeklike sin vir avontuur en stoute humorsin kon beleef – as vanselfsprekend aanvaar nie.”

Harry het Sondagmiddag in die land aangekom. Hy het op die aanloopbaan in ’n voertuig geklim en is moontlik geneem na Kensington-paleis om vir vyf dae in isolasie te wees.

Hy sê in sy verklaring sy oupa was “ ’n meester met die vleisbraairooster, sy spitsvondigheid was legendaries en hy was tot sy einde astrant”.

Harry het melding gemaak van sy oupa se ongedurigheid met langdradigheid en gesê sy oupa sou nou, bier in die hand, aan almal gesê het: “Ag, kry nou tog net klaar!”

Prins Harry se verklaring was minder formeel as dié van prins William. Harry het onder meer sy oupa bedank dat hy “altyd net homself was”. Foto: Getty Images

Harry sal Saterdag in ’n gewone pak, maar met sy oorlogsmedaljes aan, die begrafnis in die St. George-kapel in Windsor-kasteel bywoon. Omdat hy nie meer ’n werkende lid van die koninklike familie is nie, sal hy nie daarop geregtig wees om ’n seremoniële uniform te dra nie.

Hy sal na verwagting saam met sy pa en broer agter die Land Rover stap waarmee sy oupa se kis na die kapel vervoer gaan word. Die kort prosessie van die koninklike kapel in die kasteel na die St. George-kapel, sal agt minute duur.

’n Kleedrepetisie word Donderdag gehou.

Philip se kis sal ná die diens in die koninklike kapel tot ruste kom. Dié deel van die diens sal nie op televisie uitgesaai word nie. ’n Deel van die vloer van die kapel skuif oop en die kis sal op ’n blok na benede laat sak word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.