Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Soega is Japan se nuwe premier

Josjihide Soega (71) is Japan se nuwe premier.

Hy is Japan se eerste nuwe leier in byna agt jaar en was die regterhand van Shinzo Abe, Japan se langste dienende premier wat onlangs bedank het weens swak gesondheid.

Soega, wat onder Abe as hoofsekretaris van die kabinet gedien het, het belowe om nie van Abe se ekonomiese beleid af te wyk nie.

Soega het 314 stemme uit 462 in die laerhuis van die parlement gekry. Die laerhuis het voorrang bo die hoërhuis in die verkiesing van ’n premier. Die hoërhuis sou Soega waarskynlik ook kies weens ’n regerende meerderheid.

Soega is Maandag tot leier van die regerende Liberale Demokratiese Party verkies.

Hy staar talle uitdagings in die gesig soos hoe om die nasleep van die Covid-19-pandemie teen die agtergrond van ’n sukkelende ekonomie te bestuur, asook hoe om vir die verouderende samelewing voorsiening te maak.

Joshihide Soega is Japan se nuwe premier. Foto: AP

Sowat ’n derde van die bevolking is ouer as 65 en dra nie baie tot die ekonomie by nie.

Met min regstreekse diplomatieke ervaring moet Soega ook ’n toenemende konfrontasie tussen Amerika en China hanteer, bande bou met die wenner van die Amerikaanse presidentsverkiesing op 3 November en probeer om Japan se eie betrekkinge met China op koers te hou.

Plaaslike media sê sowat die helfte van die nuwe kabinet sou mense uit die Abe-kabinet wees. Daar sal net twee vroue wees en die gemiddelde ouderdom, wat Soega insluit, is 60.

Van diegene wat na verwagting hul werk sal behou, is sleutelrolspelers soos Taro Aso, minister van finansies, Toshimitsu Motegi, minister van buitelandse sake, Seiko Hashimoto, minister van Olimpiese Spele, en Shinjiro Koizumi, minister van omgewingsake.

Abe se jonger broer, Nobuo Kishi, sal waarskynlik vir die verdedigingsportefeulje benut word, terwyl Taro Kono, die uittredende minister van verdediging, die leisels sal oorneem van die administratiewe hervorming, ’n pos wat hy voorheen beklee het.

Yasutoshi Nishimura sal die minister van ekonomie bly, terwyl Hiroshi Kajiyama, minister van handel en nywerheid, ook sy pos sal behou.

Katsunobu Kato, uittredende minister van gesondheid en ’n hegte bondgenoot van Soega, sal na verwagting die hoofsekretaris word. – Reuters

Meer oor:  Josjihide Soega  |  Japan  |  Kabinet  |  Hoofsekretaris  |  Leier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.