Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Vlugte weer tot stilstand in Hongkong

Die woord “terrorisme” is die eerste keer deur die Chinese regeringswoordvoerder vir Hongkong gebruik vir die oproer en betogings in dié voormalige Britse kolonie wat in opstand is uit vrees dat hul selfbestuur deur die rooi reus China verkrummel word.

Yang Guang se beskrywing van terrorisme klink baie soos ’n dreigement teenoor betogers dat hulle nou ’n vlak van omverwerping bereik wat (die Kommunistiese Party) nie langer aanvaarbaar vind nie, sê Lev Nachman, ’n kenner oor maatskaplike groepe in Hongkong en Taiwan wat aan die Universiteit van Kalifornië verbonde is.

“Om die woord ‘terrorisme’ te gebruik is retoriek om voor te berei vir eskalering. Dit gee die party ruimte om verder te gaan en die sogenaamde terrorisme as rede te gebruik om geweld van sy kant af te regverdig om hierdie ‘terroristiese gevaar’ te stuit.”

A protester shows a placard to stranded travelers
'n Betoger Dinsdag op die lughawe in Hongkong. Vlugte uit die stad is vir die tweede dag gekanselleer. Foto: AP

Hongkong se polisie het reeds begin om hard op te tree. Op tonele op CNN kon Maandagaand gesien word hoe hulle sonder genade met knuppels onder die betogers inklim en aanhou slaan al kan die betogers nie vorentoe of agtertoe nie. Mans, vroue, oud of jonk, niemand is ontsien nie en talle is hardhandig in hegtenis geneem.

Carrie Lam, Hongkong se leier (deur Beijing goedgekeur), het Dinsdag gesê die betogers se wetteloosheid in die naam van vryheid tas die oppergesag van die reg aan en dat die stad as finansiële spilpunt in die wêreld lank kan neem om te herstel.

Kragtens die Hongkongse grondwet mag Lam die hulp van die Chinese People’s Liberation Army (PLA) inroep om openbare orde te handhaaf. Daar is ’n garnisoen van die weermag in Hongkong.

Kenners stem saam dat die ontplooiing van die PLA in die strate van Hongkong op ’n Tiananmenplein-situasie kan uitloop en dat dit die potensiaal het om die ekonomie in duie te laat stort. In 1989 het die PLA op betogers op die Tiananmenplein in Beijing toegeslaan en tot vandag toe weet niemand presies hoe groot die bloedbad was nie.

Eenhede van die PLA is ook reeds by Zhenzhen – net oor die grens van Hongkong in China – saamgetrek.

Die betogings duur reeds sowat twee maande en Maandag is die meeste vlugte op die lughawe gestop weens ’n driedaagse sitbetoging daar. Dinsdag is vlugte weer gestaak weens die sitbetoging. 

“Neem ’n bietjie ’n oomblik en kyk na ons stad, ons tuiste. Kan ons toekyk hoe dit in die afgrond gedruk word en in stukke verbrysel word?” het Lam Dinsdag gevra.

Terwyl sy gepraat het, het die Hang Seng-indeks in Hongkong sy laagste punt in sewe maande bereik en die hele Asiese mark agterna getrek. Die mark het reeds 6% geval sedert die betogings in Junie begin het.

Die betogings het begin nadat Lam ’n wetswysiging wou aanbring dat Hongkong-inwoners aan China uitgelewer kan word om in die Chinese howe verhoor te word.

Sy het later die wysiging teruggetrek, maar toe is daar vir haar bedanking betoog en betogings het verder uitgebrei om die ooreenkoms met die Britte oor die bestuur van Hongkong as “een land, twee stelsels” te handhaaf.

Lam het gewaarsku die stad is in “paniek en chaos”.

CNN se joernalis in China het Maandagaand op TV-nuus gesê al wat in China op TV gesien word, is klein groepies gewelddadige betogers en dat die hele Hongkong teen hul optrede gekant is. Die waarheid wat die res van die wêreld sien, is dat daar derduisende mense op die strate is en die stad saamstaan in sy opstand teen China se tentakels, wat Lam wou toelaat.

Meer oor:  Hongkong  |  China
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.