Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Spelonkers ontdek wonderwêreld in grotte
Twee spelonkers was Saterdag die eerste mense wat diep in die nuutgevormde sinkgate tussen Daniëlskuil en Kuruman in die Noord-Kaap in die grotte rondgekruip het.

Karin Human en Gerrie Pretorius, albei ywerige spelonkers, het Saterdag in die grotte rondgekruip.


Karin Human en Gerrie Pretorius nadat hulle in die modderige grotte rondgekruip het.

“Dit was 'n ongelooflike ervaring wat ek graag met belangstellendes wil deel,” sê Human.

Omdat sy skraal gebou is, kon sy dieper as Pretorius in sommige gange en grotkamers inklim.

Sy sê een van die drie gate in die jongste sinkgat langs die R31-roete lei tot heelwat gange en dieper kamers wat die klub met ’n volgende ekspedisie verder wil verken.

Sinkgate onder aardskeur

Die sinkgate onder ’n aardskeur van meer as 300 m lank het twee weke gelede in gietende reën op die plaas Mount Carmel tussen Daniëlskuil en Kuruman ingesak. Die departement van paaie en openbare werke het die pad gesluit nadat nog ’n skeur Donderdag langs die pad ingeval het.

Foto’s van die aardskeur en miljoene liters water wat daarin stort, het Human en Pretorius Saterdagoggend van onderskeidelik Middelburg en Pretoria na die toneel gelok.

“Die sinkgate lyk anders as op die foto’s. Dit is vlakker en die tweede groot reënbui het die groot dolomietrif groter as die eerste skeur oopgespoel. Die gat waaruit Gerrie ’n warm en nat wind voel uitblaas het, het hom baie opgewonde gemaak.

“Ons het in die drie gate van die jongste aardskeur naaste aan die pad geklim. Ek kon net sowat 4 m in die eerste gat afklim. Op die bodem was die opening in die vloer en die nou gang na links en regs toegespoel.

Die sinkgate lyk anders as op die foto’s. Dit is vlakker en die tweede groot reënbui het die groot dolomietrif groter as die eerste skeur oopgespoel.
Karin Human skat die afstand van die opening in die derde gat na die grotvloer is sowat 7 m. Sy is fyn gebou en kon deur die opening klim. Gerrie Pretorius was baie gefrustreerd omdat hy nie deur die opening kon pas nie. Foto: Karin Human

Af met die grotleer

“Ek en Gerrie is met die grotleer in die tweede gat af. Die gang is baie nou en het onder in twee rigtings verdeel. Gerrie het bo-oor ’n groot klip geklim na die gang wat na regs lei. Dit neig na die pad se kant. Hy het deur ’n baie klein tonnel geseil en ’n T-aansluiting gesien. Dié tonnel is te klein om deur te gaan.

“Ek het die linkerkantse nou gang gevolg en gemerk die grot se mure het ’n baie vloeiende tekstuur – amper soos rotse wat in ’n rivier staan. Daar was geen skerp of hoekige stukke nie. Daar was op ’n paar plekke teen die rotse besonderse kristalle wat derduisende jare oud is.”

Binne in die wonderwêreld

By die derde gat het hulle in ’n dolomietrots geboor om ’n bout te plaas waaraan hulle die grotleer veilig kon vasmaak. Die opening is te nou vir Gerrie om deur te gaan.

“Die eerste kamer is sowat 7 m vanaf die ingang. Dit is ’n taamlike groot kamer met ’n groot horisontale kraak net bo die vloer. Die kraak is groot genoeg om deur te kruip.

“Na regs is daar ’n gang van sowat 1 m breed. Daar is ook ’n tonnel van kruiphoogte sowat ’n halwe meter verder. Albei gaan 'n hele ent in.

“Terug by die ingangskamer het ek oorbeweeg na ander gange en tonnels. ’n Entjie verder is daar nog ’n kamer. Die vloer het ’n trap van sowat een en ’n halwe meter hoog wat na onder en heelwat dieper gaan.

“Die grot se dak en mure is soliede rots. Water het uit die dak gedrup en gevloei. Die gebrek aan waterpoele bevestig die water stroom af en syfer na ’n reserwe.

Ons beplan om met ’n volgende ekspedisie die grot verder te verken en ’n topografiese opname te maak.
’n Omstander het dié foto van Karin Human en Gerrie Pretorius geneem terwyl hulle in die gate van die nuutste sinkgat by Mount Carmel geklim het.

“Ons beplan om met ’n volgende ekspedisie die grot verder te verken en ’n topografiese opname te maak.”

Human en Pretorius is komiteelede van die Speleologiese eksplorasieklub wat deel is van die Speleologiese Vereniging van Suid-Afrika, wat hom vir die ondersoek, bewaring en wetenskaplike studie van grotte beywer.

Sy oogmerk is om nuwe grotte te ondersoek of om wetenskaplikes te help wat grotte ondersoek.

Sommige van die klub se groot ekspedisies was onder meer die ondersoek van die grootse ondergrondse meer in die wêreld wat nie onder ’n gletser is nie (Dragon’s Breath), die diepste en oudste droë grot in Suider-Afrika (Armageddon) en die langste grot (Apocalypse). Die klub het al meer as 1 400 grotte in Suider-Afrika ondersoek. Die belangrikste was hul lede se hulp met die Rising Star-ekspedisie waarin die Homo Naledi-fossiele uit diep grotte gehaal is.

* Die Raad vir Geowetenskap het die Mount Carmel-sinkgate op 12 Januarie besoek toe die tweede gat ingeval het. Die raad stel ’n verslag op oor die stabiliteit van die dolomietformasies in die gebied.

Karin Human meen die kristalle wat teen die rotse in die grot onder die sinkgat by Daniëlskuil groei, is derduisende jare oud. Foto: Karin Human
Die gang van die tweede gat lyk só. Foto: Karin Human
Gerrie Pretorius klim in een van die gate in. Foto: Karin Human
Karin Human wurm haar uit een van die ondergrondse gange.
Met dié grotleer het die spelonkers afgeklim. Foto: Karin Human
Karin Human het dié foto vanaf die vloer van die derde gat na bo geneem om te wys die dak is van soliede rots. Foto: Karin Human


Netwerk het ook in die grotte gaan rondklouter

Die aardskeure wat die laaste weke deur massas reënwater in Mount Carmel se weidingskampe naby Daniëlskuil gekloof is, het al wat ’n deskundige en nuuskierige gelok. Die R31-roete is amptelik gesluit verklaar, hoewel rompslomp die fisieke proses vertraag. Charné Kemp en die fotograaf Emile Hendricks het self in die sinkgat se kuile geklouter. Klik hier om meer te lees

Die foto van Henk van Hunks wat hy uit sy hommeltuig geneem het, toon die grootte van die nuutgevormde sinkgat op Mount Carmel.Foto: Henk van Hunks


Wow! Kraak in grond word gou waterval in sinkgat

’n Boer kon sy oë nie glo toe hy Woensdagmiddag in gietende reën sien hoe ’n kraak in die grond binne twee uur in ’n bruisende waterval binne-in ’n sinkgat ontaard nie. Andries van Zyl, eienaar van die plaas Mount Carmel tussen Kuruman en Daniëlskuil, sê dit was skrikwekkend om te sien hoe die aardkors deur die massa water weggekalwe word. Klik hier om meer te lees. 

Die grootste kraak is sowat 100 m lank, met ander krake daaragter. Op sekere plekke kan ons tot 30 m diep in die gat sien, hoewel dit dieper kan wees.
Andries van Zyl
Die klipformasies van die sinkgat, bekend as Boesmangat, verwonder Andries van Zyl steeds, al woon hy al dekades op die plaas. Foto: Emile Hendricks


R31 by Kuruman ‘in gevaar’ weens groot sinkgat

’n Gedeelte van die R31-roete tussen Kuruman en Daniëlskuil is volgens ’n geoloog in gevaar weens die groot sinkgat wat Woensdag daarlangs ingeval het. Die sinkgat het te midde van gietende reën op die plaas Mount Carmel van Andries van Zyl ingeval.

DIE PAD IS MOONTLIK BESIG OM IN DIE SKEUR IN TE SAK.


Alle oë nou op sinkgat in Noord-Kaap

Andries van Zyl, eienaar van Mount Carmel Safaris, is bekommerd omdat amptenare nog nie die veiligheid van die R31-roete wat tussen sy plaas en die nuutgevormde aardskeur of sinkgat op sy broers se plase verbyloop, ondersoek het nie. Klik hier om meer te lees. 

Die sinkgat vanuit die lug geneem met 'n hommeltuig. Die kant van die sak is sowat 12 meter van die R31-roete se padskouer. Die roete is tussen Kuruman en Daniëlskuil. Foto: Hendrik van Hunks Fotografie

Ligte voertuie op pad langs sinkgat toegelaat

Die R31-roete tussen Daniëlskuil en Kuruman wat deur ’n groot sinkgat bedreig word, is Vrydag gedeeltelik oopgestel vir ligte voertuie om boere en inwoners in die gebied tegemoet te kom. Swaar voertuie mag nie die pad gebruik nie en moet oor Postmasburg ry. Klik hier om meer te lees. 



MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.