Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Spioenasie: Cyril se naam op uitgelekte lys

Pres. Cyril Ramaphosa se selfoonnommer verskyn op ’n uitgelekte lys van persone op wie daar gespioeneer sou word of op wie daar gespioeneer is met die Pegasus-bespiedware (spyware).

Ramaphosa is een van 14 staatshoofde wie se selfoonnommers op die lys verskyn, berig The Guardian.

Emmanuel Macron, president van Frankryk, en Imran Khan, premier van Pakistan, is ook op die lys.

Pegasus is bespiedware wat deur die Israeliese maatskappy NSO ontwerp en bemark word en aan regerings en wetstoepassingsagentskappe verkoop word met die bedoeling om misdaad en terreur te bestry.

Dit blyk nou egter dit word deur sommige lande misbruik, het ’n langdurige ondersoek deur 17 media-organisasies onthul.

Die ondersoek het regerings geïdentifiseer wat hulleself daaraan skuldig maak dat hulle die bespiedware gebruik om slimfone van derduisende regeringsamptenare, joernaliste en aktiviste wêreldwyd te kraak.

Dit blyk nou selfs staatshoofde is nie ontsien nie.

Rwanda het Ramaphosa se selfoonnommer glo in 2019 geïdentifiseer.

NSO ontken die bevindings van die ondersoek in ’n verklaring en meen dit is “vol verkeerde aannames en teorieë”.

NSO distansieer homself ook van die uitgelekte lys en benadruk die Pegasus-program is slegs bedoel vir gebruik deur intelligensie- en wetstoepassingsagentskappe om terrorisme en misdaad te bekamp.

Die lys van mense wat deur sekere regerings as persone van belang geïdentifiseer is, is egter beduidend.

Die betrokke lande wat geïdentifiseer is, sluit Marokko, Indië, Saoedi-Arabië, asook Rwanda en staatsentiteite in Mexiko in.

Frankryk het reeds aangedui hy gaan die beweerde spioenasie ondersoek, terwyl NSO aangedui het hy gaan hom tot die howe wend, wat sal bepaal dat hy ’n slagoffer van naamskending is, het Reuters berig.

Amnesty International SA het in reaksie gesê NSO kan nie meer agter die verskoning skuil dat sy bespiedware gebruik word vir misdaadbekamping nie.

“Dit is duidelik dit word gebruik deur mense wat op ander lande wil spioeneer. Die onthullings moet wêreldleiers koue rillings gee,” sê Genevieve Quintal, Amnesty International se woordvoerder in Suid-Afrika, in ’n verklaring.

“Ons weet al vir 'n geruime tyd dat aktiviste en joernaliste se fone gekraak word – maar dit is nou duidelik dat die magtigste mense ook deur die sinistere verspreiding van NSO se bespiedware geteiken word.”

Wat is Pegasus?

Pegasus is bespiedware wat deur die Israeliese maatskappy NSO ontwerp en bemark word.

NSO voer aan hy verkoop dit slegs aan regerings en wetstoepassingsagentskappe om misdaad en terreur te bekamp.

As dit op ’n rekenaar of selfoon gelaai word, dra dit data op die toestel oor na ’n meesterbediener.

’n Toestel met ’n internetverbinding kan deur die bespiedware binnegedring word.

Dit kan die kamera en mikrofoon op die toestel aanskakel en toegang kry tot gesprekke, kalenders en kontakte en teksboodskappe en e-posse lees.

Die nuutste weergawes kan glo ’n toestel binnedring sonder dat die eienaar op bedrieglike wyse uitgelok word om op ’n skakel te klik.

BRON: Indian Express

Meer oor:  Nso  |  Pegasus  |  Spioenasie  |  Pres. Cyril Ramaphosa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.