Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
‘Sprankie vertroue’ tussen Biden en Poetin ná beraad

Pres. Joe Biden van Amerika het Woensdag ná sy ontmoeting met pres. Wladimir Poetin van Rusland gesê hy het met sy Russiese ampsgenoot gepraat oor menseregteskendings – onder meer ook oor die aanhouding van die opposisieleier Aleksei Navalni en twee Amerikaners in Rusland.

“Hoe kan ek die president van Amerika wees en nie oor menseregteskendings met hom praat nie?” het Biden op ’n nuuskonferensie ná hul ontmoeting in Genève, Switserland, gesê.

Pres. Joe Biden en pres. Wladimir Poetin sit Woensdag teenoor mekaar vir die spitsberaad wat hulle in die Villa La Grange in Genève, Switserland, gehou het. Foto: Reuters

Die twee presidente het vergader in ’n poging om spanning te ontlont tussen die twee lande wat tans die hoogste in jare is.

Terwyl amptenare in albei kampe verwag het dat die twee presidente se ontmoeting vier uur of langer sou duur, het hulle net twee uur en 38 minute lank vergader. Volgens die Withuis is die pouse tussen die twee sessies nie bygetel nie.

Poetin het op sy nuuskonferensie gesê Amerika en Rusland sal hul onderskeie ambassadeurs terugstuur na hul onderskeie poste in Washington en Moskou en dat hy en Biden saamgestem het oor diplomatieke betrekkinge.

Die gesprekke met Biden was “opbouend, substantief, konkreet en het in ’n atmosfeer plaasgevind waarvan die mikpunt was om resultate te verkry. Die belangrikste is dat daar ’n sprankie van vertroue is”, het Poetin gesê.

Elkeen het begrip gehad vir die ander se “rooi lyne” oor sleutelkwessies.

Volgens Biden het hulle ook in besonderhede gepraat oor stappe wat gedoen kan word oor wapenbeheer, insluitend ’n meganisme om nuwe en gevaarlike wapens wat die kans op oorlog kan verhoog te beperk.

Hoewel die twee wêreldleiers afsonderlike nuuskonferensies gehou het, het hulle ná die beraad ’n gesamentlike verklaring uitgereik waarin hulle sê die grondslag is gelê vir verdere maatreëls rondom wapenbeheer en die vermindering van risiko’s.

Die beraad het bewys die leiers kon selfs in tye van hoogspanning vorder met hul gedeelde doelwit om onder meer die risiko van ’n kernoorlog te beperk, lui die verklaring.

“Ons kan vandag herbevestig dat ’n kernwapenoorlog nie gewen kan word nie en nooit, ooit geveg moet word nie.”

Die twee presidente skud blad tydens hul beraad Woensdag in Genève, Switserland. Hulle het in twee sessies met mekaar gepraat. Foto: AP

Biden sê hy het ook aan Poetin ’n lys van 16 “kritieke infrastruktuur-instellings” gegee wat nie die teiken van kuberaanvalle mag wees nie. Die twee leiers het ook saamgestem om te keer dat Iran kernwapens in die hande kry en om konflik in die Noordpool-streek te vermy.

Biden het die beraad voorgestel in ’n poging om die betrekkinge tussen die twee lande te stabiliseer ná ’n dekade waarin Rusland probeer het om by die Amerikaanse presidentsverkiesing in te meng, die anneksering van die Krim by Oekraïne asook ’n veilige tuiste vir kuberkrakers wie se aanvalle tot chaos by verskeie sleutelnywerhede in Amerika en Europa gelei het.

Poetin het Biden as ’n “baie konstruktiewe en gebalanseerde” man bestempel en gesê hulle praat “grootliks dieselfde taal”.

Volgens Poetin is die omstandighede nog nie reg vir hulle om ’n beraad in Washington of Moskou te hou nie en hulle het mekaar ook nie genooi om mekaar se lande te besoek nie.

Poetin het ontken dat Rusland verantwoordelik is vir kuberaanvalle en weer beweer dié kuberaanvalle kom uit Amerika.

Oor Navalni het Poetin gesê “hy het daarvoor gesoek” met sy terugkeer in Januarie vanjaar uit Duitsland waar hy behandel is ná ’n senugasaanval. Navalni het Poetin se veiligheidsmagte daarvan beskuldig dat hulle hom vergiftig het. Die Kremlin ontken enige betrokkenheid. – Bloomberg

Meer oor:  Joe Biden  |  Wladimir Poetin  |  Menseregte  |  Beraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.