Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Sri Lanka, NG Kerk kom ’n lang pad, sê moderator

Ook fanatiese Christene neem deel aan geweld, skryf ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk (NGK), op Facebook in die lig van die terreuraanvalle in Sri Lanka op Paassondag.

Die moderator het Maandag in sy persoonlike hoedanigheid sy medelye teenoor die slagoffers uitgespreek en die NGK se agtergrond met die Sri Lankane uitgestippel.

“Die gewelddadige dood van honderde mense in Sri Lanka weens fundamentalisme en haat is oneindig sleg. Ons bid vir die naasbestaandes van almal wat dood is. Ons bid ook vir dié wat gewond is en vir hul geliefdes, dat die Heilige Gees self sal troos en hoop bly gee,” lui Janse van Rensburg se inskrywing.

Al Jazeera berig Dinsdag die jongste dodetal staan op meer as 320, met minstens 500 beseerdes in die dodelikste aanval in Sri Lanka sedert die burgeroorlog tien jaar gelede.

Dinsdag is as ’n nasionale roudag gehandhaaf en die eerste massabegrafnis het op die dag plaasgevind.

Janse van Rensburg skryf oor die NGK se lang verbintenis met Sri Lanka en hoe talle boerekrygers gedurende die Anglo-Boereoorlog aan die begin van die 20ste eeu in konsentrasiekampe in Sri Lanka aangehou is.

Hy skryf die NGK se “voortgesette verhouding” met die Reformed Church in Sri Lanka is ’n “lewende getuienis van ons omgee en verbintenis tot die mense van dié eiland”.

“Die wêreld is steeds ’n onveilige plek waarin wrede, fanatiese mense die grootste bedreiging vir veiligheid en vrede is. Ook fanatiese Christene neem deel aan geweld. Dít terwyl Christus die vors van vrede is,” lui die inskrywing.

“Laat ons daarom op geen manier deelneem aan die polarisering van die wêreld en in besonder, van die mense van ons land, nie. Laat ons altyd bou aan ruimtes waar mense binne hoorafstand van mekaar kan verkeer en mekaar in die oë kan kyk en mekaar as God se geliefde mense kan bly sien – ongeag die persoon se godsdienstige oortuiging of politieke drome en affiliasies of geslag of ras of seksualiteit. Die alternatief is altyd te erg om aan te dink.”

Die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes (SAJBD) het Dinsdag ook in ’n verklaring die aanval op “onskuldige Christen-aanbidders op een van die heiligste dae op die Christelike kalender” veroordeel.

Die SAJBD beskryf ’n aanval op enige godsdienstige groep by ’n plek van aanbidding as ’n lafhartige daad.

Die jongste oor Sri Lanka

  • Volgens Al Jazeera

Ruwan Wijewardene, minister van verdediging, het bekend gemaak dat die terreuraanval se sterftesyfer altesame 38 buitelanders insluit. Van die 500 beseerdes word altesame 375 steeds in hospitale behandel.

“Ons sal opvolg op die Isis-bewerings, ons glo daar kan ’n verband wees,” het Wijewardene gesê.

Meer as 40 persone is al in hegtenis geneem in verband met die aanvalle en ’n landwye noodtoestand is afgekondig, wat die polisie breedvoerige magte gee om verdagtes sonder hofbevele aan te hou en te ondervra.

Volgens Al Jazeera toon ’n voorlopige ondersoek na die selfmoordbomaanvalle op weerwraak weens die aanvalle op moskeers in Christchurch.

Vyftig mense is op 15 Maart in twee aanvalle op twee moskees in Christchurch, Nieu-Seeland, doodgeskiet.

Rajitha Senaratne, minister van gesondheid, het pres. Maithripala Sirisena se administrasie daarvoor geblameer dat hy nie op waarskuwings van intelligensiedienste gereageer het enkele weke gelede nie.

Harin Fernando, ’n ander minister, het Sondag ’n interne polisiememorandum van 11 April getwiet waarin die polisie gewaarsku is dat ’n groep genaamd National Thowheed Jamath beplan om Katolieke kerke en die Indiese ambassade aan te val.

Meer oor:  Ng Kerk  |  Sri Lanka  |  Bomaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.