Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Sri Lanka steier ná aanvalle

Meer as tweehonderd mense is Sondag dood en ten minste 450 beseer in ’n reeks bomontploffings by kerke en luukse hotelle in Sri Lanka.

Dit is die eerste groot aanval op dié eiland sedert die einde van die burgeroorlog tien jaar gelede.

Sewe mense is in hegtenis geneem en drie polisiebeamptes is dood toe veiligheidsmagte ure na die ontploffings ’n huis in Colombo, die hoofstad, deursoek het.

Amptenare meen verskeie van die ontploffings is veroorsaak deur aanvallers wat hulself opgeblaas het.

Aandklokreël ingestel

Die regering het ’n aandklokreël ingestel in Colombo en toegang tot sosiale media en kitsboodskapdienste soos Facebook en WhatsApp opgeskort. Dit is onduidelik wanneer die aandklokreël opgehef gaan word.

“Ons inligting van hospitale af dui op ’n dodetal van 207. Luidens die inligting wat ons nou tot ons beskikking het, is 450 beseerdes in hospitale opgeneem, het ’n polisiewoordvoerder, Ruwan Gunasekera, gesê.

Drie kerke in verskillende dele van die land en vier hotelle in Colombo is aangeval.

Ten minste 27 van die oorledenes is volgens die plaaslike media en regeringsbeamptes buitelanders. Dit sluit in burgers van Turkye, China, Indië en Holland.

Geen organisasie het nog aanspreeklikheid vir die aanvalle aanvaar nie. Sri Lanka was vir jare, tot in 2009, in ’n oorlog gewikkel met Tamil-seperatiste. In dié tyd het bomontploffings gereeld in die hoofstad voorgekom.

Ramaphosa betoon medelye
Pres. Cyril Ramaphosa het sy medelye met Sri Lanka betoon ná die terreuraanvalle Sondag in die land. Ramaphosa het ook die wens uitgespreek dat die beseerdes spoedig sal herstel

Ekstreme Boeddhistiese monnike

Plaaslike Christen-groepe sê hulle het die afgelope jare toenemend intimidasie van sommige ekstreme Boeddhistiese monnike ervaar.

Verlede jaar was daar botsings tussen ’n meerderheidsgroep Boeddhiste en ’n minderheidsgroep Moslems. Sommige Boeddhiste beskuldig die Moslems daarvan dat hulle mense dwing om tot Islam te bekeer.

Dosyne mense is op Paassondag dood by die ontploffing by die St. Sebastian-kerk in Kauwapitiya, noord van Colombo. Dit is ’n geskiedkundige Katolieke kerk, gebou in Gotiese styl.

Die polisie vermoed dat die aanvaller by dié kerk homself opgeblaas het. Foto’s van die toneel wys hoe lyke oor die grond gestrooi lê, met bloed op die kerkbanke. Die kerk se dak is vernietig in die ontploffing.

Luidens plaaslike mediaberigte is 25 mense dood in ’n aanval op ’n evangeliese kerk in Batticaloa in die ooste van die land.

Hotelle geteiken

Die hotelle wat aangeval is, sluit in die Shangri-La, die Kingsbury, die Cinnamon Grand en die Tropical Inn naby die dieretuin. Geen inligting is bekend oor sterftes in die ontploffings by die hotelle nie, maar ’n ooggetuie het aan ’n plaaslike TV-stasie gesê hy het liggaamsdele sien rondlê by die Tropical Inn.

sri lanka, colombo
Soldate beveilig die gebied om die St. Anthony-kerk in Colombo, Sri Lanka. Foto: AP

Die eerste ses ontploffings is binne ’n kort tydjie aangemeld – presies op die tyd wat kerkdienste begin het. Een van die ontploffings was by St. Anthony’s Shrine, ’n Katolieke kerk in Colombo wat gereeld deur toeriste besoek word.

Die ontploffing by die Tropical Inn het eers later gevolg en daarna was daar ’n agtste ontploffing by ’n huis in die hoofstad. Die polisie en plaaslike media sê dis hier waar drie beamptes dood is en sewe mense in hegtenis geneem is toe owerhede later ’n klopjag op die perseel uitgevoer het.

Ranil Wickremesinghe, die eerste minister van Sri Lanka, het ’n vergadering van die nasionale veiligheidsraad belê wat later in die dag by sy huis gehou sal word.

“Ek veroordeel die lafhartige aanvalle op ons mense ten sterkste. Ek doen ’n beroep op alle Sri Lankane om sterk en verenig te bly,” het Wickremesinghe op Twitter gesê.

“Moet asseblief nie onbevestigde berigte versprei of spekuleer nie. Die regering neem onmiddellike stappe om beheer van die situasie te neem.”

Pres. Maithripala Sirisena het gesê hy het ’n spesiale polisietaakmag en die weermag opdrag gegee om ondersoek in te stel na wie verantwoordelik is vir die aanvalle en wat hul agenda is.

Die weermag is in die land ontplooi en veiligheid by die internasionale lughawe in Colombo is verskerp.

Volgens ’n organisasie wat meer as tweehonderd kerke en ander Christen-organisasies in Sri Lanka verteenwoordig, was daar verlede jaar 86 bevestigde voorvalle van diskriminasie, dreigemente en geweld teen Christene in Sri Lanka. Vanjaar is 26 sulke voorvalle aangemeld, waaronder een waartydens Boeddhiste-monnike glo probeer het om kerkdienste op ’n Sondag te ontwrig. Die laaste voorval is op 25 Maart aangemeld.

Luidens ’n sensusopname van 2012 is sowat 70% van Sri Lanka se bevolking van sowat 22 miljoen Boeddhiste, 12,6% is Hindoes, 9,7% is Moslems en 7,6% is Christene.

In ’n 2018-verslag van die VSA se departement van buitelandse sake oor die stand van menseregte in Sri Lanka, sê sommige Christen-groepe en kerke hulle is onder druk om kerkdienste te beëindig, omdat owerhede dit as “onwettige byeenkomste” klassifiseer.

Luidens die verslag probeer Boeddhiste-monnike om Christen-kerke en moskees te sluit.

Wêreldwye veroordeling

Staatshoofde van regoor die wêreld het reeds die aanvalle veroordeel. Pres. Donald Trump van die VSA het sy land se “diepste meegevoel” oorgedra en gesê die VSA is oorgehaal om te help indien hulp benodig word.

Indië se eerste minister, Narendra Modi, het gesê “daar is geen plek vir sulke barbaarsheid in ons streek nie” en Turkye se pres. Tayyip Erdogan het die bomme beskryf as ’n “aanval op die mensdom”.

In sy jaarlikse Paasboodskap op St. Petersplein het pous Fransciskus gesê: “Ek wil my liefdevolle nabyheid uitspreek teenoor die Christen-gemeenskap wat aangeval is tydens gebed, en teenoor al die slagoffers van die wrede geweld”.

Die aanvalle kom op dieselfde dag wat Christene wêreldwyd die opstanding van Christus na Sy kruisdood herdenk.

Nieu-Seeland se eerste minister, Jacinda Ardern, het ook haar meegevoel met Sri Lanka uitgespreek. Verlede maand het ’n aanvaller vyftig mense by twee moskees in dié land doodgeskiet. “Ons moet kollektief die wil en die antwoorde vind om die geweld te beëindig,” het Ardern gesê.

Meer oor:  Sri Lanka  |  Colombo  |  Kerke  |  Hotelle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.