Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Suid-Afrika swyg nog oor Russiese gifskandaal
Russiese diplomate land gister in Moskou nadat hulle deur die Amerikaanse regering huis toe gestuur is. Honderde Russiese diplomate wêreldwyd word tans die deur gewys ná die internasionale diplomatiese skandaal verlede maand toe ’n Russiese oudspioen en sy dogter in Brittanje vergiftig is. Foto: Reuters

Suid-Afrika het nog geen standpunt ingeneem oor die internasionale diplomatieke skandaal wat op 4 Maart deur die vergiftiging van ’n voormalige Russiese spioen veroorsaak is en steeds uitkring nie.

Sowat 150 Russiese diplomate is reeds in reaksie op dié voorval deur meer as 20 hoofsaaklik Westerse lande huis toe gestuur, berig die BBC, en Rusland het op sy beurt ook diplomate van hierdie lande die deur gewys.

Die Russiese regering ontken enige betrokkenheid by die voorval waarin Sergei Skripal (66) en sy dogter, Joelia, in Salisbury, in die suide van Engeland, met senugas vergiftig is, berig Sky News.

Die Britse eerste minister, Theresa May, het egter gesê dit is “hoogs waarskynlik” dat Rusland vir die voorval verantwoordelik is.

Russia Today berig dat die Russiese ambassade in Londen die voorval ’n “gefabriseerde saak teen Rusland” noem.

Volgens die BBC is Sergei se toestand kritiek maar stabiel, en met Joelia gaan dit glo beter.

Sergei Skripal, ’n oudspioen van Rusland, veg om sy lewe nadat hy met senugas vergiftig is. Foto: AP

The Sunday Independent berig in ’n meningsartikel dat Suid-Afrika se Brics-vennoot China ’n beroep op Westerse lande gedoen het om hul konfrontasie met Rusland te staak en internasionale wette te respekteer.

Soos Suid-Afrika het die ander Brics-vennote, Brasilië en Indië, hulle ook nog glad nie oor die saak uitgelaat nie.

Volgens The Sunday Independent kan Suid-Afrika dit weens sy afsondering voorlopig bekostig om neutraal te bly, maar dinge kan meer ingewikkeld raak indien ’n nuwe Koue Oorlog tussen die Ooste en Weste sou uitbreek.

Die koerant berig die vergiftiging van die Skripals was bloot die laaste strooi nadat Rusland die afgelope tyd deur die Weste as ál aggressiewer ervaar word.

Die Russiese president, Wladimir Poetin, het byvoorbeeld op 1 Maart net voor die Skripal-voorval in sy staatsrede aangekondig dat Rusland nuwe kernwapens ontwikkel het wat baie meer gesofistikeerd as dié van die Weste is.

Joelia Skripal, wat saam met haar pa, Sergei, in Engeland vergiftig is.Foto: Facebook

Die BBC berig António Guterres, sekretaris-generaal van die VN, het Donderdag gewaarsku oor “ ’n situasie wat baie soortgelyk is aan dit wat ons tydens die Koue Oorlog geken het”.

Sky News berig dat die Britse minister van verdediging, Gavin Williamson, gewaarsku het dat die wêreld “ ’n nuwe era van oorlogvoering betree” en dat dit ’n “donkerder, meer gevaarlike plek” word.

Meer oor:  Theresa May  |  Sergei Skripal  |  Rusland  |  Sa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.