Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Brande in Australië: Suid-Afrikaners vertel
Esra Vollenhoven (36) het begin Desember die Blue Mountains-bergreeks besoek. Sy kon sien hoe dit brand.Foto: Verskaf

“Dit het soos ’n ervaring buite my liggaam gevoel. Die lug was dik van die rook.”

Só vertel Esra Vollenhoven (36), ’n Suid-Afrikaner wat sedert 2016 in Australië woon, van haar ervaring in die Blue Mountains-bergreeks vroeg in Desember.

Die bergreeks is wes van Sydney in Nieu-Suid-Wallis (NSW), ’n gebied in Australië wat deur die vlamme verswelg is.

“Daar is soveel bome en ons kon sien hoe die brande begin. Daar was swaar rook. Dit was apokalipties en afskuwelik om die lug so te sien,” sê Vollenhoven.

Byna 200 bosbrande brand steeds oor die land heen, berig die BBC. Alhoewel daar baie aandag geskenk is aan NSW wat die ergste getref is, is elke stad en gebied geraak.

Die Suid-Afrikaner, Esra Vollenhoven (36), en haar Australiese kêrel, Matthew Selfe (35). Vollenhoven woon sedert 2016 in die noorde van Sydney, Australië. Foto: Verskaf

Vollenhoven sê sy is “gelukkig” om in die noorde van Sydney te woon waar die risiko vir brande laag is, omdat daar nie baie plante is nie.

Sy is oorspronklik van Kaapstad.

Vollenhoven sê die afgelope drie jaar was daar nog altyd bosbrande weens die klimaat en plantegroei.

“Daar is altyd ’n risiko vir brande en ek het dit al geweet voordat ek hierheen gekom het. Maar dit was nog nooit só erg nie,” sê sy.

Sy vertel ook van ’n ander voorval wat sy nooit sal vergeet nie.

“Ons was onlangs met vakansie langs die noordkus van NSW, waar my lewensmaat, Matthew Selfe (35), se ouers in ’n landelike gebied woon. Dit is verskriklik om die verwoesting te sien wat daar plaasgevind het,” sê Vollenhoven.

“Hulle is aangeraai om (die gebied) uit die gebied pad te gee en dit was skrikaanjaend, want hulle het diere op die plaas. Dit is ’n kwessie van net alles agterlaat wat hulle het en opgebou het.

“Dan is daar ook die risiko om jou lewe te verloor. Dit is net so angswekkend, veral wanneer dit kom by die mense vir wie jy regtig omgee.”

Adolf Nel (24) is ’n Suid-Afrikaner wat sedert 2013 in Brisbane, Australië, woon saam met sy ouers.Foto: Verskaf

Nog ’n Suid-Afrikaner, Adolf Nel (24), woon die afgelope sewe jaar in Brisbane, Australië. Hy het in 2013 saam met sy ouers, Louis en Marlisé Nel, geëmigreer vir beter werksgeleenthede.

“Die brande is baie sleg. Byna ’n derde van Australië se inheemse bome het afgebrand en die meeste van die plekke wat afgebrand het, was wildreservate wat ’n tuiste is vir die koala-bevolking,” sê Nel.

Hoewel Nel nie in die geaffekteerde gebiede woon nie is daar wel twee bosbrande in die weste van Brisbane, “maar dit is nog nie só erg nie”, sê hy.

Ondanks die brande om hom, is hy steeds nie spyt dat hy nou in Australië woon nie.

“Ons mis die familie en ek mis ’n braai. Die leefstyl hier is baie anders. Dit is ’n groot opoffering wat mense maak wat emigreer,” sê Nel, oorspronklik van Oos-Londen.

Hy is tans besig met sy B.Sc.-honneursgraad in mikrobiologie.

Inwoners met maskers stap Donderdag in Canberra, waar die luggehalte tans as die swakste ter wêreld is.Foto: AP

Hulp van Suid-Afrika

Working on Fire het Sondagmiddag laat hoor hulle monitor die bosbrande in Australië.

“Trevor Abrahams, besturende direkteur van Working on Fire, is sedert Desember 2019 in kontak met die Australiese owerhede wat verantwoordelik is vir die koördinering van internasionale steun,” sê Shane Christian, bedryfshoof van Working on Fire.

“Die Australiërs het ons aanbod om hulp waardeer. Ons het ooreengekom dat hulle na ons sal terugkeer wanneer en as hulle addisionele hulpbronne vir brandbestryding benodig.”

Luidens die BBC is minstens 24 mense dood sedert die brande in September begin het. Slegs in die afgelope week is 12 mense dood, met ses wat vermis word in die deelstaat Victoria, berig Sky News.

Volgens The Sun is 200 000 huise reeds in die brande vernietig.

Intussen het die Australiese eerste minister, Scott Morrison, 3 000 lede van die reserwemagte opgeroep om te help, berig die BBC.

In Canberra is die luggehalte as die slegste ter wêreld aangewys en die inwoners word aangeraai om nie hul huise te verlaat nie.

Die Australiese lugdiens Qantas het Sondag alle vlugte na en van die stad gekanselleer.

- Bykomende bronne: BBC, SkyNews, The Sun; verwerk. 

Esra Vollenhoven (36) het begin Desember besoek afgelê aan die Blue Mountains-bergreeks. Sy kon dien hoe die brande ontstaan.Foto: Verskaf
Motors ry Woensdag op ’n snelweg in Canberra, Australië. ’n Padteken langs die pad wys hoe hoog die brandgevaar is.Foto: AP

Beroemdes help Australië

Intussen het bekende sterre aangebied om ’n finansiële bydra te maak tot die krisis. Hulle is (onder meer):

• Die Australiese Oscar-bekroonde aktrise Nicole Kidman en haar man, Keith Urban, skenk $500 000.

• Die Amerikaanse sangeres Selena Gomez het op Twitter aangedui sy gaan ’n donasie gee. Die bedrag is onbekend.

• Die Amerikaanse sangeres P!nk skenk $500 000.

• Die Australiese komediant Celeste Barber het gehelp om meer as $20 miljoen in te samel.

• Die Australiese tennisspeler Nick Kyrgios het $4 000 ingesamel.



Meer oor:  Australië-Brande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.