
Julian Assange op 11 April buite 'n polisiekantoor in Londen. Foto: Reuters
Die saak van verkragting teen Julian Assange, stigter van WikiLeaks, is deur aanklaers in Swede laat vaar, berig The Guardian.
"Ek wil julle inlig oor my besluit om die voorlopige ondersoek te laat vaar," het staatsaanklaer Eva-Marie Persson op ’n nuuskonferensie gesê.
Assange dien tans ’n vonnis van 50 weke in ’n Britse tronk uit omdat hy nie sy borgvoorwaardes nagekom het nie en na Ecuador se ambassade gevlug het. Assange het etlike jare in die ambassade geskuil totdat hy vroeër vanjaar uitgeskop is.
Hy word onder meer ook op klagte van spioenasie deur Amerikaanse owerhede gesoek. Daar word beweer dat Assange geklassifiseerde bronne se name bekend gemaak het en met Chelsea Manning, ’n oudweermag-inligtingsanalis, saamgesweer het. Hy het haar glo gehelp om toegang tot geklassifiseerde inligting te kry.
Assange beveg tans ’n versoek om uitlewering aan Amerika.
Die klag van verkragting teen Assange volg nadat hy Swede in 2010 besoek en na bewering twee vroue seksueel aangerand het. Owerhede het hom kort ná die beweerde voorval ondervra en aangesê om die land te verlaat.
Die saak is later heropen en Assange is formeel van seksuele molestering aangekla.
Persson het in September vanjaar aangedui sy het sewe getuies in die saak ondervra.