Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Taiwan 1ste Asiese land om gay-huwelike te wettig

Huwelike tussen mense van dieselfde geslag is Vrydag in Taiwan gewettig – die eerste Asiese land om dit te doen.

’n Reuseskare het voor die parlementsgebou in die reën saamgedrom. Mense het mekaar omhels en vasgedruk en gehuil van blydskap oor die nuus.

Die land se grondwethof het reeds in 2017 bevind dat gay mense die reg het om te trou. Die hof het die parlement ’n spertyd van twee jaar gegee om die wet deur te voer. Die spertyd is 24 Mei, berig die BBC.

Die parlement het drie wetsontwerpe beoordeel en uiteindelik besluit op die regering se voorstel omdat dit die mees progressiewe een was. Dit is met 66 teenoor 27 stemme aanvaar.

Dit is ’n baie belangrike oomblik in my lewe. Tog is dit nog nie volle huweliksreg nie. Ons sal steeds moet veg vir die reg om saam kinders aan te neem.

Honderde paartjies het reeds aansoek gedoen om te trou.

Jennifer Lu van die groep Marriage Equality Coalition Taiwan, het aan die BBC gesê sy is baie verbaas.

“Maar ook baie gelukkig. Dit is ’n baie belangrike oomblik in my lewe. Tog is dit nog nie volle huweliksreg nie. Ons sal steeds moet veg vir die reg om saam kinders aan te neem. Ons is ook nie seker wat die situasie van ’n huwelik tussen ’n buitelander en ’n Taiwannees is nie en ook nie oor geslagsgelyke onderwys nie.”

Pres. Tsai Ing-wen moet nog die wet onderteken, wat waarskynlik net ’n formaliteit sal wees.

“Ons het ’n stap tot ware gelykheid geneem en Taiwan beter gemaak,” lui Tsai se twiet, volgens Vox.

Die debat oor ’n huwelik tussen twee mense van dieselfde geslag was baie omstrede in die parlement en onder die bevolking van Taiwan. In November 2018 het Taiwannese dié huwelike in ’n referendum verwerp. Die referendum was nie bindend nie en het nie die hofbevel geraak nie, maar dit was ’n terugslag vir die ondersteuners van gay-huwelike en het druk op die wetgewers geplaas wat bang was vir ’n ongunstige reaksie op die wetgewing, berig NPR.

Ingevolge die wet mag twee mense van dieselfde geslag “aansoek doen om huweliksregistrasie”. Dit maak huwelike tussen dieselfde geslag wettig, maar volgens The Washington Post bestaan die toestemming steeds buite die huidige burgerlike kode wat vir heteroseksuele paartjies geld, berig Vox.

Dit is volgens die Post om te voldoen aan die hofbeslissing en aan die uitkoms van die referendum.

Konserwatiewe opponente is ontevrede met die besluit.

Die nuwe wet kan ook probleme vir Tsai inhou in haar poging om in Januarie as president herkies te word.

“Hoe kan ons die resultaat van die referendum ignoreer wat die wil van die mense weergee?” het John Wu, opposisielid in die parlement, volgens Reuters gevra.

Meer oor:  Taiwan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.