Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Talle beseer in missiel-aanval op Saoedi-lughawe

’n Missiel wat die Hoethi-rebelle in Jemen afgevuur het, het die aankomssaal van ’n lughawe in die suidweste van Saoedi-Arabië getref.

Minstens 26 burgerlikes is beseer, van wie agt in ’n hospitaal opgeneem is, het kol. Toerki al-Malki, ’n woordvoerder van die Saoedi-Arabiese alliansie, wat met Amerika se steun teen die rebelle veg, in ’n verklaring gesê.

Drie vroue en twee kinders is onder andere beseer, het Al-Malki gesê luidens CNN.

Volgens Al-Malki word die toneel ondersoek om vas te stel watter tipe missiel in die aanval gebruik is.

Saba News, ’n Hoethi-koerant, berig dat dit ’n strategies geleide kruismissiel was.

Die skade aan die Abha-lughawe nadat dit Woensdag aangeval is. Foto: Saudi Press Agency via Reuters

Al-Malki het gesê die koalisiemagte gaan ná hierdie gewetenlose terreur-aanval onverbiddelik teen die Hoethi’s optree. “Ons sal die burgerlikes en hul eiendom beskerm.”

Die oorlog in Jemen het in 2015 uitgebreek nadat die Hoethi-rebelle van ’n Sjia-minderheidsgroep in die noorde van die land die internasionaal erkende regering van pres. Abdoe Rabboe Mansoer Hadi uitgedryf het, berig BBC.

Die rebelle word vermoedelik deur Iran, ook ’n Sjia-regering, gesteun. Saoedi-Arabië en agt ander meestal Soenni-Arabiese state het ingegryp om Hadi en sy regering te help herstel.

Al-Maliki het gesê die aanval moet as ’n oorlogsmisdaad beskou word omdat ’n aanval op ’n burgerlike lughawe ’n oortreding van internasionale humanitêre wette is.

Die Hoethi-beheerde Al Masirah TV-diens het brig.genl. Jahia Sari, woordvoerder van die rebelle, aangehaal wat gesê het dat “die laaste Amerikaanse stelsels nie daarin kon slaag om die missiel te onderskep nie”.

Volgens hom is dit die tweede kruismissiel wat die rebelle afvuur – die ander een was in 2017 op ’n kernkragstasie in Aboe Dhabi. Daar was destyds egter geen berigte dat die missiel enigiets getref het nie.

Volgens die Verenigde Nasies (VN) het die gevegte in Jemen reeds die lewe van 7 000 burgerlikes geëis en 11 000 is beseer. Duisende sterf ook aan wanvoeding, siektes en swak gesondheid.

Die aanval Woensdag was ure voordat premier Sjinzo Abe van Japan in Teheran, Iran, aangekom het vir gesprekke om die spanning tussen Amerika en Iran te probeer ontlont.

Meer oor:  Saoedi-Arabië  |  Missiel  |  Lughawe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.