Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
4 aangekeer vir aanvalle op moskees in Nieu-Seeland

"Dit is duidelik een van Nieu-Seeland se donkerste dae."

So het Jacinda Ardern, premier van die land, Vrydag gereageer nadat talle mense in aanvalle op twee moskees in Christchurch doodgeskiet is.

Die polisie het nog nie gesê hoeveel mense dood is nie. 

Vier mense is in hegtenis geneem, het Mike Bush, nasionale polisiekommissaris, op 'n nuuskonferensie gesê.

"Drie mans en 'n vrou is aangekeer. Ons is nie bewus van nog verdagtes nie, maar ons kan nie aanneem dat daar nie moontlik ander is wat nog nie aangekeer is nie," het hy gesê. 

Ploftoestelle is in die verdagtes se motors gevind toe hulle aangekeer is.

Die aanvalle by twee moskees het om 13:40 begin. Die aanvallers het eerste op die Masjid Al Noor-moskee toegeslaan.

Die tweede aanval by die Linwood Masjid-moskee, sowat 7 km daarvandaan, het kort daarna begin, berig Stuff.com.

Radio New Zealand het berig daar was minstens 300 mense in die Masjid Al Noor-moskee toe die aanval plaasgevind het.  

Die gebied om die moskees was afgesper. Talle van die stad se skole en hospitale is gesluit. Die skole is egter weer oopgestel kort nadat aangekondig is dat die vier verdagtes aangekeer is.

Een van die verdagtes (28) wat in hegtenis geneem is, is luidens berigte 'n Australiër wat glo in kamoefleerdrag by een van die moskees opgedaag het en begin skiet het.

christchurch
'n Videogreep van 'n polisieman op die toneel van die skietery by een van die moskees in sentraal-Christchurch. Foto: Reuters

Die BBC berig die skieter het 'n manifes geskryf waarin hy teen immigrante uitvaar.

Hy het dit op Twitter geplaas, maar die Twitter-rekening wat die verdagte vermoedelik geskep het, is intussen opgeskort.

Die vermeende skieter het glo ook 'n video van die skietery regstreeks op Facebook uitgesaai. Dit is ook intussen verwyder.

'n Voormalige Reuters-joernalis, Matthew Keys, het egter skermgrepe van die video op Twitter geplaas.

Dit wys wapens in 'n voertuig.

"Die video, wat 15 minute lank is, is ongelooflik grafies, en wys talle slagoffers binne en buite ('n) moskee in Christchurch, Nieu-Seeland," lui Keys se inskrywing.

* Hierdie berig is aangepas sedert dit aanvanklik gepubliseer is.

Meer oor:  Christchurch  |  Nieu-Seeland  |  Christchurch-Aanvalle  |  Skietery  |  Dood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.