Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
‘Tarzan-aktivis’ in Peru vermoor

Die verbrande lyk van ’n Britse omgewingsaktivis en Rooms-Katolieke kerklike is Dinsdag gevind in ’n jeughostel vir lede van inheemse stamme wat hy in die stad Iquitos in die Amasone in Peru bestuur het.

Paul McAuley
Paul McAuley Foto: Facebook

Studente het die lyk van Paul McAuley (71) in die jeughostel gevind, berig die BBC.

Die polisie het ses inboorlinge ondervra wat in die jeughostel gewoon het.

McAuley het aan die De La Salle-onderwysorde van die kerk behoort. Hy het bekend geword as aktivis toe hy in 2010 uit Peru gegooi is omdat hy stamme in die Amasone gehelp het om teen magtige olie- en gasmaatskappye te veg wat die reënwoude wou inneem.

Daar is toe na hom as die “Tarzan-aktivis”, “wit terroris” en die “opruiende buitelandse priester” verwys. Die hof het hom egter toegelaat om in die land te bly.

Die De la Salle-orde sê in ’n verklaring dat McAuley doodgebrand is, berig EveningStandard.

Hy het in 2004 die Loreto-omgewingsnetwerk gestig wat vir inheemse groepe gewerk het. Hy en omgewingskenners het die eksplorasie en boor vir olie in die Amasone deur die destydse regering van pres. Alan García teengestaan.

Hulle het García daarvan beskuldig dat hy niks doen aan die grootskaalse afkap van bome wat die bestaan van die inboorlingstamme bedreig nie.

Julia Urrunaga, direkteur van ’n omgewingsondersoek-agentskap in Peru, het ná McAuley se dood getwiet: “Moeilike nuus. ’n Groot man wat baie gedoen het vir inheemse gemeenskappe, hul regte en die woude.”

McAuley, wat van die Isle of Portland in Brittanje afkomstig is, het in 1995 die Britse eerbewys Orde van die Britse Ryk (MBE) gekry nadat hy ’n skool in die arm Punta Piedra-plakkerskamp in Lima, die hoofstad van Peru, begin het.

Luidens ’n berig in The Guardian in 2010 sou hy die eerbewys teruggestuur het na die koningin uit protes teen Britse maatskappye se teenwoordigheid in die reënwoude, as hy dit nie teen daardie tyd reeds weggegee het nie.

Meer oor:  Vermoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.