Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
‘Te laat vir nuwe Brexit-ooreenkoms,’ sê Macron

Die Franse president, Emmanuel Macron, het Donderdag vir Boris Johnson, premier van Brittanje, gesê daar is nie meer tyd om ’n nuwe Brexit-ooreenkoms voor die spertyd van 31 Oktober uit te werk nie.

Johnson het met Macron in die Elysee-paleis in Parys vergader nadat hy vroeër in Berlyn met Angela Merkel, bondskanselier van Duitsland, samesprekings gevoer het.

Merkel het Brittanje uitgedaag om met 'n ander opsie vir die “agterdeuropsie” vorendag te kom. Johnson probeer die Europese Unie (EU) sover kry om dié “agterdeuropsie” sal laat vaar.

Noord-Ierland is die enigste deel van Brittanje wat ’n grens met ’n land in die EU deel, naamlik Ierland.

Planne vir die grens tussen Ierland en Noord-Ierland is die grootste kwessie in die Brexit-onderhandelinge tussen die EU en Brittanje.

Die bestaande Brexit-ooreenkoms, wat Johnson se voorganger, Theresa May, beding het, is telkemale in die Britse parlement oor dié klousule afgeskiet. Dit is ’n “versekeringspolis” dat daar nie weer grensposte tussen Ierland en Noord-Ierland opgestel sal word nie, maar in ruil daarvoor word van Brittanje verwag om sommige EU-reëls te aanvaar vir ingeval die twee kante nie later oor ’n handelsooreenkoms tot ’n vergelyk kan kom nie.

Johnson beskou die klousule as “ondemokraties” en sê Brittanje sal die EU sonder ’n ooreenkoms verlaat as die EU nie die sogenaamde agterdeur laat vaar nie.

Drie jaar het verloop sedert Brittanje gestem het om die EU te verlaat, maar dis steeds nie duidelik op watter voorwaardes dit sal gebeur nie.

Macron gee Brittanje kans om ’n oplossing vir die “agterdeuropsie” te kry, maar sê enige alternatief moet die integriteit van die EU se handelsmark en stabiliteit in die verdeelde Ierland respekteer.

“Ek wil dit baie duidelik maak: In die volgende maand gaan ons nie ’n onttrekkingsooreenkoms vind wat baie gaan afwyk van die oorspronklike een nie,” het Macron gesê.

Johnson het op sy beurt aan Macron gesê hy glo daar is steeds tyd om ’n nuwe ooreenkoms voor 31 Oktober uit te werk.

“Kom ons handel Brexit af. Kom ons doen dit verstandig en pragmaties en in die beste belang van albei kante en laat ons nie eers tot 31 Oktober wag nie,” het Johnson gesê. Reuters

macron, boris johnson
Pres. Emmanuel Macron van Frankryk groet Boris Johnson, premier van Brittanje, by die Elysee-paleis na afloop van hul vergadering. Foto: Reuters

Meer oor:  Brexit-Ooreenkoms  |  Macron
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.