Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Teenstander beskou Uganda-verkiesing as ‘bedrogspul’

Die verkiesingskommissie in Uganda het Saterdag bekend gemaak dat Yoweri Museveni, president van Uganda, ’n beslissende oorwinning in die verkiesing behaal het om ’n sesde termyn te regeer.

Museveni se regstreekse teenstander, Bobi Wine, het egter die verkiesingsuitslae as ’n bedrogspul afgemaak en sy landgenote versoek om dit te verwerp.

Die 76-jarige Museveni, wat sedert 1986 in Uganda aan bewind is, het die verkiesing Donderdag met 5,85 miljoen stemme, oftewel 58,6% verower. Volgens die verkiesingskommissie het Wine 3,48 miljoen stemme (34,8%) gekry.

Burgerregtegroepe en buitelandse regerings het in die aanloop tot die verkiesing die geloofwaardigheid en deursigtigheid daarvan bevraagteken, nadat talle versoeke om akkreditasie om dit te monitor, afgekeur is.

Ondersteuners van Uganda se president, Yoweri Museveni, vier sy oorwinning in Kampala, die hoofstad van die land. Foto: Reuters

Die VSA en ’n groep vir monitering van verkiesings in Afrika is ook besorg oor onreëlmatighede in die verkiesing. Wine, ’n 38-jarige sanger en wetgewer wat politieke verandering, veral gesteun deur jong Ugandese, voorstaan, het die uitslag as “totale bedrog” afgemaak.

“Dit is ’n verkiesing wat deur die weermag en die polisie oorgeneem is,” het Wine in ’n telefoniese onderhoud uit sy huis in die hoofstad, Kampala, aan die nuusagentskap Reuters gesê.

Volgens Wine is sy huis deur soldate omsingel, wat hom verhoed om die perseel te verlaat.

“Dit wys net hoe diktatories die Museveni-bewind is,” het Wine gesê, wat hom beywer om ’n einde te maak aan wat hy wydverspreide korrupsie noem. “Dit is ’n bespotting van demokrasie,” het hy gesê.

Deo Akiiki, adjunkwoordvoerder van die Ugandese weermag, het Saterdag gesê dat veiligheidsbeamptes by Wine se huis vir sy eie veiligheid ontplooi is.

Met die bekendmaking van die uitslae was talle woonbuurte in die eens bedrywige Kampala buitengewoon stil met slegs soldate en polisielede wat die strate in groot getalle gepatrolleer het.

“Daar is oral gewapende mans en hulle is gereed om dood te maak,” het Innocent Mutambi (26), ’n sweiser van beroep, gesê. “Ek is seker wat hulle aangekondig het, is vals, maar op die oomblik kan ons niks sê nie, omdat hulle ons sal doodmaak.”

Honderde ondersteuners van die president was op motorfietse vanaf die verkiesingsentrum na die middestad onderweg, waar groepe mense met plakkate, met Museveni se gesig daarop, gedans het.

Die koalisie Africa Elections Watch, wat 2 000 waarnemers in 146 distrikte ontplooi het, het in ’n verklaring gesê dat hulle onreëlmatighede waargeneem het, insluitend ’n vertraging om stemlokale betyds te open, vermiste stembriewe en onwettige stembusse.

Tibor Nagy, die Amerikaanse ministerie van buitelandse sake se topdiplomaat vir Afrika, het ook Saterdag die verkiesingsproses in Uganda in ’n twiet as “fundamenteel gebrekkig” beskryf.

Benewens die afskakeling van die internet, het die regering sedert Dinsdag ’n verbod geplaas op alle sosialemedia-platforms en boodskap-apps. Wine en sy ondersteuners het gereeld van Facebook gebruik gemaak vir regstreekse dekking van sy veldtog. – Reuters

Meer oor:  Yoweri Museveni  |  Uganda  |  Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.