Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Terreur in Mosambiek: SA'ers in hotel vasgekeer

Talle Suid-Afrikaners is vasgekeer in ’n hotel in die hawedorp Palma in die noorde van Mosambiek en vrees vir hul lewe nadat Islamitiese rebelle die dorp Woensdagmiddag ingeval het.

’n Bron het aan Reuters gesê lyke, waarvan sommige onthoof is, lê in die strate nadat die weermag nie daarin kon slaag om weerstand teen die rebellevegters te bied nie.

zitamar

Die veiligheidskenner Jasmine Opperman het vanoggend getwiet die gevegte tussen die terroriste en die weermag het deurnag voortgeduur.

jasmine

Opperman is ’n navorser van die Amerikaanse navorsingsinstansie Armed Conflict Location and Event Data Project (Acled).

Lees meer hier: ‘Risiko te groot vir SA om militante in Mosambiek te pak’ 

’n Bron met wie Netwerk24 gepraat het, wat nie sy naam genoem wil hê nie, is in kontak met een van die Suid-Afrikaners wat in die Amarula Palma Hotel vasgekeer is.

Die gaste in die hotel is ingevolge ’n reëling met die Britse ambassade gevra om nog geen inligting te deel nie, sê hy.

Lunga Ngqengelele, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), het gesê hy wag nog op reaksie van sy kollegas in die konsulaat op die situasie in Palma.

Sowat 100 vegters, wat glo bande met die terreurgroep die Islamitiese Staat (Isis) het, was vir die aanval verantwoordelik, berig Reuters.

Palma is in die gas- en olieryke provinsie Cabo Delgado geleë, waar Moslem-militantes, wat die steun van Isis geniet, sedert 2017 ’n skrikbewind voer.

Die Suid-Afrikaanse weermaggroep Dyck Advisory Group (bekend as DAG), wat deur die weermag gekontrakteer is om in die stryd teen Isis in die streek lugsteun te verskaf, is nou betrokke by die reddingspogings in Palma, het die bron aan Netwerk24 gesê.

’n Foto wat verlede jaar in Palma geneem is.

Volgens die mense daar het die weermag gevlug en DAG het 24 buitelanders met helikopters uit die gebou ontruim, maar 100 ander moet nog gered word, het hy gesê.

“Dit is ongelooflik moeilik vir hulle om die hotel te ontruim. Die rebelle wil die buitelanders onthoof om die regering se aandag te kry.”

’n Boodskap wat hy van ’n Suid-Afrikaner in Palma gekry het, lui as volg:

“Ek het in die afgelope 48 uur twee ure geslaap. Dit het Woensdag om 14:00 begin. ** het baie tyd op sy foon bestee om hulp te kry. Ek het vandag brandstof vir DAG-helikopters ingekry. Ons is bekommerd oor die buitelanders wat óf vanaand gyselaars geneem óf opgekap gaan word.” (**Naam verwyder)

Luidens ’n verklaring wat namens die weermag uitgereik is, is “veiligheidsmagte besig om die vyand se bewegings te volg” en pogings om reg en orde te herstel gaan voort, berig Al Jazeera.

Die aanval kom slegs ure nadat die Franse petroleumreus Total aangekondig het dat hy gereed is om konstruksie te hervat aan ’n gasprojek van miljarde rande wat in ’n veiligheidsone geleë is. Palma is net buite die sone.

Baie buitelanders, onder wie Suid-Afrikaners, is in dié dorp vir die projek.

mosambiek
'n Ma wat saam met haar kinders in 'n kamp vir vlugtelinge gehuisves word, nadat sy moes vlug weens die geweld in Cabo Delgado. Foto: Save the Children/ Reuters

Palma was die afgelope paar weke grootliks afgesny van die res van die provinsie namate die rebelle die paaie onveilig gemaak het.

Die konflik in Cabo Delgado het reeds 2 300 lewens geëis, en 355 000 mense moes uit hul dorpe vlug.

Die Verenigde Nasies (VN) het gewaarsku dat 1,1 miljoen mense volgende jaar in nood gaan verkeer.

*  Dyck Advisory Group (bekend as DAG) se kontrak met die weermag verstryk in April, berig die Mosambiekse publikasie Zitamar News.

Meer oor:  Palma  |  Cabo Delgado  |  Isis  |  Hotel  |  Aanval  |  Mosambiek  |  Vlugtelinge  |  Terreur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.