Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Thai-seuns skryf hartroerende briewe uit grot

Moenie bekommerd wees nie, ons is almal sterk.

Só skryf die 12 jong Thaise sokkerspelers wat die afgelope twee weke saam met hul hulpafrigter in ’n grot vasgekeer is in briewe aan hul ouers.

BBC berig die handgeskrewe briewe sluit versoeke vir kos en spesifiek diepgebraaide hoender in. Een van die seuns het aan ’n onderwyser geskryf “moenie ons baie huiswerk gee nie”.

Reddingswerkers probeer die grotte binnedring na waar die seuns vasgekeer is. Foto: Reuters

Volgens BBC het die hulpafrigter, Ekkapol Tsjantawong (25), in sy brief aan die seuns se ouers om verskoning gevra en belowe dat hy na die beste van sy vermoë na die kinders sal omsien.

Die span is Maandagaand lewend gevind nadat hulle tien dae lank in die Tham Loeang-grotte in Tsjiang Rai, in die noorde van Thailand, vasgekeer was. Hulle het die grotte op ’n uitstappie verken, maar die grotte het weens reën oorstroom.

Intussen het Thaise amptenare enige onmiddellike pogings om die vasgekeerde span te red, uitgestel.

Die goewerneur van die Tsjiang Rai-provinsie, Narongsak Osottanakorn, het aan CNN gesê dat die seuns en hul afrigter nie vandag gered gaan word nie.

Hierdie besluit kom ten spyte van kommer dat die suurstofvlakke van die gewone vlak van 21% na 15% gedaal het.

’n Lid van die reddingspan het Donderdag versmoor nadat hy die grotkompleks binnegegaan het.

Een van die seuns wat in die grot vasgekeer is. Foto: Reuters

’n Reddingsplan wat ’n “buddy dive” insluit word nou oorweeg, berig CNN verder. Hierdie duik behels dat ’n ervare, volwasse duiker saam met elke seun sal swem.

Die Los Angeles Times berig dat daar oor die naweek vir storms gevrees word wat reddingspogings kan belemmer. Reën wat vir die naweek voorspel is, kan die Tham Loeang-grotte weer met water vul.

Noodwerkers soek na 'n alternatiewe ingang tot die grot waar die seuns vasgekeer is. Foto: Reuters

Tsjantawong en die seuns, wat almal tussen 11 en 16 jaar oud is, word intussen van proteïenaanvullings en noodkomberse voorsien en oefen volgens instruksies van die Thaise spesialismagte (Navy Seals) met duikmaskers.

Daar is egter kommer dat die seuns nie goed genoeg kan swem nie en boonop baie swak is.

Sowat ’n duisend mense is betrokke by die projek om die seuns te red. Elon Musk, die uitvoerende hoof van SpaceX en Tesla, se ingenieurs sou na verwagting Saterdag in Thailand aankom om met die reddingspoging te help.


Meer oor:  Reddingspoging  |  Grot  |  Sokkerspan  |  Thailand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.