Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Thailand plaas verbod op betogings

Thailand se regering het Donderdag protesoptogte in die land verbied en minstens drie mense is in die toenemende protes teen koning Maha Wadjiralongkorn en die Thaise premier, Prajoeth Tsjan-otsja, in hegtenis geneem.

Die noodmaatreëls wat ingestel is, verbied byeenkomste van meer as vyf mense in Bangkok asook die publikasie van nuus of inligting aanlyn wat die nasionale veiligheid in die gedrang kan bring.

Duisende betogers op pad na die premier, Prajoeth Tsjan-otsja, se kantoor om te eis dat hy verwyder word. Foto: Getty Images

Die polisie is ook opdrag gegee om enigiemand wat met betogings verbind word, in hegtenis te neem. Tot dusver is reeds meer as 20 mense aangekeer wat glo voor die premierskantoor betoog het.

Die menseregte-advokaat Arnon Nampa is ook in hegtenis geneem en staan tereg op aanklagte van oproerstokery oor ’n toespraak wat hy in Augustus gehou het.

Op foto’s op sosiale media kan ook gesien word hoe die studenteleier en -aktivis Panoesaja “Roeng” Sithidjirawhattanakoel in ’n rolstoel deur die polisie weggeneem word kort nadat sy mense gevra het om deel te neem aan ’n betoging wat ondanks die verbod beplan word.

Betogers dring daarop aan dat Prajoeth uit sy amp verwyder word en beweer dat hy die verkiesing verlede jaar gemanipuleer. Prajoeth sê egter die verkiesing was onpartydig. Betogers eis ook ’n nuwe grondwet sodat die koning se magte afgeskaal word.

Die koninklike motorstoet met koningin Soethida en prins Dipangkorn ry verby ’n groep betogers in Bangkok. Foto: Reuters

Kritiek op die monargie is strafbaar met tot 15 jaar tronkstraf, hoewel Prajoeth vroeër vanjaar gesê het dat die koning gevra het dat dit vir eers nie toegepas word nie.

Die betogings oor die afgelope drie maande was grotendeels vreedsaam, asook ’n optog deur duisende mense Woensdag.

“Dringende maatreëls is nodig om die betogings te beëindig, en reg en orde te herstel,” het die regering in die noodbevel gesê.

Die Thaise regering het die polisie opdrag gegee om enige betogers in hegtenis te neem. Foto: Reuters

Ander redes vir die noodmaatreëls is skade aan die ekonomie en die verspreiding van die koronavirus, waarvan slegs een geval wat plaaslik oorgedra is in meer as vier maande aangemeld is.

Die opposisiepolitikus Thanathorn Djoeangroongroeangkit het gesê die regering moet die betogers vrylaat en die noodmaatreëls ophef.

“Wat vandag gebeur het, kan Thailand tot breekpunt dryf,” het hy gesê. – Reuters

Meer oor:  Thailand  |  Verbod  |  Premier  |  Betoging  |  Koning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.