Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Tiener voel skuldig toe sy Floyd nie kon red

Dit het ooggetuies met afgryse gevul om te sien hoe die lewe uit George Floyd gepers word.

’n Negejarige wat die moord aanskou het, het getuig dat dit haar hartseer en kwaad gemaak het, terwyl van die ooggetuies trane afgevee het toe hulle die toneel moes beskryf wat op 25 Mei 2020 in die Amerikaanse deelstaat Minnesota ontvou het.

Ooggetuies het Dinsdag teen Derek Chauvin, voormalige polisielid wat van die moord op Floyd aangekla word, getuig en in detail vertel hoe Chauvin byna nege minute lank op Floyd se nek gekniel het.

Die jurie het met sigbare empatie geluister na die tiener wat die toneel afgeneem het. Dié video is miljoene kere wêreldwyd gekyk en wys hoe Chauvin kniel op die nek van Floyd, wat in boeie op die grond is.

Darnella Frazier (18), wat die video geneem het, het in die hof gesê sy ly aan sosiale angstigheid en het in trane uitgebars toe sy vertel hoe skuldig en kwaad sy gevoel het toe sy die inhegtenisname op 25 Mei 2020 aanskou het.

“Hy het so ’n koue, hartelose kyk gehad,” het Frazier getuig terwyl Chauvin langs sy prokureurs gesit en luister en notas gemaak het.

9-jarige sien Chauvin kniel

Frazier het ’n negejarige familielid geneem om lekkernye te gaan koop toe ’n werker by Cup Foods vir Floyd net oomblikke vantevore daarvan beskuldig het dat hy vervalste note gebruik het.

Sy het toe gesien hoe die polisie Floyd in hegtenis neem.

Frazer het begin huil toe die staatsaanklaers ’n beeld van haar video wys waar dit lyk asof Chauvin direk na Frazer se kamera kyk, terwyl hy met sy knie op Floyd se nek kniel.

Staatsaanklaers wou weet hoe hierdie oomblik haar lewe verander het.

“Wanneer ek na George Floyd kyk, sien ek my pa, my broers, my neefs en niggies, my ooms, want hulle is almal swart. Dit kon enigeen van hulle gewees het,” het sy gesê.

Frazer sê sy het telkemale in die nag wakker gelê en vir Floyd om verskoning gevra dat sy nie sy lewe kon red nie.

Frazer se negejarige niggie het oomblikke later in die getuiebank gaan staan en Chauvin uitgewys as die man wat op Floyd gekniel het.

“Ek was hartseer en nogal kwaad,” het sy gesê.

‘Chauvin gemaklik bo-op Floyd’

’n Gevegskunskenner het voor Frazer se getuienis getuig en gesê hy het met onrustigheid gestaan en kyk hoe Floyd gesukkel het om asem te haal.

’n Brandbestryder het ook later getuig dat polisielede haar gekeer het om noodhulp toe te pas op Floyd, wat toe al sy bewussyn verloor het.

“Meneer Chauvin het baie gemaklik gelyk met die meerderheid van sy gewig op meneer Floyd,” het Genevieve Hansen van die Minneapolis-branddienste getuig terwyl sy haar uniform gedra het.

Chauvin se prokureurs het Maandag getuig hy het bloot gedoen waarvoor hy opgelei is en sê hy is nie skuldig aan die aanklagte teen hom nie.

‘Ek het ’n moord aanskou’

Donald Williams, die gevegskunskenner, kan in die video gehoor word waar hy beledigings aan Chauvin skree en daarop aandring dat die polisie kyk of Floyd se polsslag nog gevoel kan word.

’n Noodoproep na 911 wat Williams ná die inhegtenisname gemaak het, is in die hof gespeel terwyl Williams trane afgevee het toe sy stem in die hof begin speel.

“Ek glo ek het ’n moord aanskou. So, ek het gedink ek moet die polisie vir die polisie bel,” het Williams aan die jurie gesê.

Eric Nelson, Chauvin se hoofprokureur, het die jurie probeer oortuig dat Chauvin bedreig gevoel het deur die omstanders.

Nelson het daarna van die beledigings gelees wat Williams in die video-opname aan Chauvin geskree het, met Williams wat ietwat geglimlag het toe hy dít hoor.

‘Jy weet beter’

Hensen sê sy was oorbluf toe een van die polisielede vir haar gesê het om nie betrokke te raak toe sy Floyd wou help nie.

“As jy regtig ’n Minneapolis-brandbestryder is, weet jy beter as om betrokke te raak,” het een van die polisielede glo gesê.

Hensen kan in die video gehoor word waar sy op die polisie gil om Floyd se polsslag na te gaan.

“Ek het gesmeek en ek was desperaat. Dit is wat ek vir enigiemand sou doen,” het sy getuig. – Reuters

Meer oor:  George Floyd  |  Derek Chauvin  |  Amerika  |  Kniel  |  Betogings  |  Moord  |  Black Lives Matter  |  Vermoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.