Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Toetse hervat na Trump se ‘wenkuur’

Wetenskaplikes hervat nou proewe met hidroksichlorokien teen die Covid-19-virus terwyl die verwarring voortduur oor die teen-malariamiddel, wat pres. Donald Trump beskryf as ’n moontlike “wedstryd-wenner” in die stryd teen die pandemie.

Die hernude navorsing volg op wydverspreide kritiek op die gehalte van die data in ’n studie in The Lancet, ’n invloedryke mediese joernaal, waarvolgens groot risiko’s met die middel vereenselwig word.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), wat verlede week proewe gestaak het omdat die studie getoon het die middel word gekoppel aan ’n groter risiko van sterfte by pasiënte in hospitale, het Woensdag gesê hy is gereed om sy navorsing te hervat.

Die WGO het “ ’n wyse besluit geneem”, het prof. Martin Landray, wetenskaplike en medeleier van die Herstel-proef, die wêreld se grootste projek om bestaande middels na te vors wat heraangewend kan word vir die behandeling van Covid-19-pasiënte, gesê.

“Wat dié episode eintlik beteken, is dat daar groot onsekerheid sonder sulke ewekansige proewe is,” het Landray, ’n epidemioloog aan die Oxford-Universiteit, gesê.

Ewekansige studies is die goue standaard van navorsing, waar behandeling lukraak op een groep mense gedoen word en ’n plasebo vir ’n ander groep gegee word sodat die twee vergelyk kan word.

Die studie in The Lancet was ’n “retrospektiewe waarnemingstudie” waarin ’n stel data van ’n ontledingsfirma gebruik is om te bepaal watter uitwerking die middel op sommige Covid-19-pasiënte het vergeleke met dié wat dit nie gekry het nie.

Die WGO se ommeswaai kom nadat sowat 150 dokters ’n brief aan The Lancet geskryf het waarin hulle hul kommer oor die gevolgtrekkings in die studie uitspreek.

Die joernaal het vandeesweek self ook sy kommer oor die navorsing uitgespreek en gesê “ernstige wetenskaplike vrae is onder ons aandag gebring”.

Sommige wetenskaplikes het gesê die episode het die pogings gekniehalter om te bepaal of hidroksichlorokien ’n doeltreffende of riskante behandeling vir Covid-19 is, aangesien sommige proewe oor die wêreld heen gestaak is ná die WGO se aanvanklike besluit om die proewe vir eers te staak.

“Dit het regtig nogal ’n negatiewe uitwerking gehad op die soort studies wat moontlik kan sê of daar ’n voordeel of skade sal wees,” het Will Schilling aan Reuters gesê. Hy is die medeleier van Brittanje se Copcov-studie wat verlede week uitgestel is net enkele dae nadat dit begin is.

Wetenskaplikes erken studies word teen ’n verbysterende spoed gedoen, terwyl dit aandag kry wat die bevindings ongegronde gewig kan gee. – Reuters

Meer oor:  Koronavirus  |  Entstof  |  Pandemie  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.