Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Total onttrek uit Mosambiek

Die Franse oliereus Total het die afgelope naweek ’n belegging van miljarde rande in die noorde van Mosambiek aan sy eie lot oorgelaat nadat hy hul laaste 150 werknemers aan die hawedorp Palma onttrek het. Dit volg ná gevegte van meer as ’n week waartydens Islamitiese rebelle die hele dorp oorgeneem het.

Een van die DAG se helikopters land verlede week in Palma. Foto: Dyck Advisory Group/Handout via REUTERS

“Die dorp is nou volledig in die rebelle se hande,” het kol. Lionel Dyck, grootbaas van die paramilitêre veiligheidsmaatskappy die Dyck Advisory Group, Saterdagmiddag aan Rapport gesê. Dyck se maatskappy was verlede naweek instrumenteel om tientalle buitelanders – die meeste van hulle Europeërs en Suid-Afrikaners – te red nadat hulle in ’n hotel aan die buitewyke van Palma deur rebelle omsingel is. 'n Suid-Afrikaner is dood in die gevegte.

Dyck sê Total het hul multimiljardrandaanleg op die Afungi-skiereiland aan die Mosambiekse weermag oorhandig.

Joe van der Walt, uitvoerende hoof van die Focus-groep, wat al tien jaar intelligensiewerk in Mosambiek doen, sê die Mosambiekse regering het vroeër die week, in ’n poging om vir die wêreld te wys hulle het dinge in Palma onder beheer, ’n groep plaaslike joernaliste na dié dorp geneem. “Hulle was skaars ’n halfuur op die grond, toe kom hulle onder swaar vuur van die insurgente en moes op die vlug slaan.”

Een van die 17 voertuie wat verlede naweek in ’n hinderlaag gelei is toe hulle van Palma probeer ontsnap het. Net sewe het dit tot by veiligheid gemaak. Foto: Dyck Advisory Group/Handout via REUTERS

Dyck sê hoewel sporadiese vuurgevegte steeds rondom die dorp plaasvind, “is die Mosambiekse weermag beslis nie meer in beheer van Palma nie. “Die insurgente is in Palma en besig om die dorp te plunder van voertuie, brandstof en veral voedsel.”

Die DAG het ’n kontrak gehad om die Mosambiekse polisie te help om orde te handhaaf in die noordelike Cabo Delgado-provinsie van die land, maar hul kontrak het Dinsdag verstryk en Dyck sê daar is geen sprake van ’n verlenging nie. “Ons is reeds besig om die wapens van ons helikopters af te haal en ons begin Maandag terugtrek.”

Daar is teenstrydige berigte van Franse, Portugese en Britse militêre ingryping in die provinsie. Dyck sê daar is wel ’n klein aantal Amerikaanse spesmagte in Maputo besig om die Mosambiekse marinierskorps op te lei.

Van der Walt sê die Britte het ’n span van die elite Special Air Service (SAS) in die land ontplooi om te gaan soek na ’n Britse burger wat in verlede naweek se aanval vermis geraak het.

’n Skermgreep van ’n Isis-propagandavideo. Die mense in die foto is na bewering rebellevegters in Palma. Foto: AMAQ Militant video via AP

The New York Times het die naweek ’n senior amptenaar van buitelandse sake aangehaal dat die Amerikaanse militêre opleidingsprogram “kan lei tot ’n meer ambisieuse Amerikaanse hulp vir Mosambiek”. Dit kan insluit die behandeling van ongevalle, beplanning en logistiek.

Die Suid-Afrikaanse weermag het Saterdag in ’n verklaring gesê Suid-Afrikaanse soldate is nie betrokke by enige militêre aksies in Mosambiek nie. “Die SANW gaan voort om logistieke ondersteuning aan die ambassade in Maputo te lewer met betrekking tot konsulêre dienste, wat repatriasie insluit. Dit is die volle omvang van die SANW se betrokkenheid,” lui die verklaring.

Volgens die Suid-Afrikaans-gebore oorlogskorrespondent Al Venter het die rebelle nou vir die eerste keer toegang tot honderde voertuie van alle soorte – insluitende busse, vierwieltrekvoertuie en grondverskuiwingsmasjinerie. Dit beteken dat soldate van die Islamitiese Staat nou die vermoë het om groot getalle vegters en swaar wapens vinnig te verskuif. Dit, tesame met die wapens en die ammunisie wat hulle by die Mosambiekse weermag gebuit het toe die garnisoen in Palma ingeneem is, beteken dat hulle nou waarskynlik dorpe na die suide gaan teiken. Dit sluit Mueda (140 km suidwes van Palma en pres. Filipe Nyusi se tuisdorp) en die strategiese hawestad Pemba (250 km suid van Palma) in. “Die hele Cabo Delgado-provinsie kan nou in die hande van die radikale Moslem-groep val,” sê Venter.

Dyck

Total se onttrekking van die Afungi-skiereiland laat ’n reusevraagteken oor die toekoms van die $60 miljard-vloeibarepetroleumgasprojek in Mosambiek – die grootste ontwikkeling van sy soort in Afrika.

Talle militêre ontleders is dit eens dat, ondanks die Mosambiekse regering se versekering, die land se weermag nie opgewasse is vir die taak om die insurgente uit Palma te verdryf nie. Hulle sê dit is ook nie duidelik waarom die Mosambiekse regering nie enige hulp van Westerse regerings of die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap wil aanvaar nie. Bronne in die veiligheidsgemeenskap sê veral Frank­ryk en Portugal staan gereed om hul belange en beleggings in die noordelike provinsie van Mosambiek te beskerm. Frankryk is waarskynlik die beste in staat om blitsvinnig te reageer aangesien die land ’n militêre basis op Mayotte in die Comore het – slegs 300 km oos van Palma.

Die Afrika-ontleder Peter Fabricius skryf in Daily Maverick dat daar ook bespiegel word dat die Mosambiekse regering se weiering om die DAG se kontrak te hernu ’n faktor was in Total se besluit om Vrydag hul laaste personeel uit Mosambiek te onttrek.

Fabricius haal ’n ongeïdentifiseerde Franse amptenaar aan wat sê Total hou die situasie in die land fyn dop. “Dis moeilik om te werk onder sulke dreigende (gevaar) en druk, so (Total se terugkeer) sal afhang van die Mosambiekse en internasionale reaksie op die krisis.”

Joe van der Walt, die uitvoerende hoof van die Focus-groep, wat al 20 jaar intelligensiewerk in Afrika doen en tien daarvan in Mosambiek, sê met Palma nou in insurgente hande is Pemba in die suide moontlik die volgende dorp in die terreurgroep se visier. Foto: Verskaf - Focus Groep

Die hoof van die Afrika-program by Chatham House in Londen, Alex Vines, het aan die Daily Maverick gesê dit is beduidend dat groot dele van die bevolking besig is om uit die noorde van die land suidwaarts te vlug. Hy sê dit beteken dat die probleem in Cabo Delgado nie soortgelyk is aan Islamitiese opstande in die Sahel of Tsjad nie. “Dis nie ’n populêre opstand nie,” het hy gesê.

Intussen stroom duisende vlugtelinge na die suide.

Van der Walt sê dit kompliseer die veiligheidsituasie verder.

“Die insurgente én die vlugtelinge is Mosambiekse burgers. Baie van hulle is van dieselfde stamme. Hoe onderskei mens tussen vriend en vyand?”

“By Palma was gewapende insurgente wat die dorp in die voorafgaande tyd ingesypel het en as gewone burgers van die dorp gelewe het. Toe die eerste skote verlede Woensdag klap, het hulle van binne na buite begin veg en sodoende die soldate oorweldig.”

Dié aanval het ’n nuwe golf vlugtelinge veroorsaak.

Meer oor:  Lionel Dyck  |  Joe Van Der Walt  |  Palma  |  Terreur In Mosambiek  |  Isis  |  Total  |  Terrorisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.