Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Trump, Biden-debat: Koronavirus-regulasies gevolg

Pres. Donald Trump van Amerika kan Dinsdag in sy eerste debat teen die Demokratiese presidentskandidaat, Joe Biden, te staan kom teen die taaiste uitdaging van sy presidentskap wanneer antwoorde van hom geëis sal word oor kwessies soos sy hantering van die koronaviruspandemie, die Amerikaanse ekonomie en sy eie optrede.

CNN  berig Trump en Biden kom vanaand in Cleveland bymekaar vir die eerste van drie debatte.

Die twee kandidate sal ingevolge koronavirusregulasies nie bladskud nie en die gehoor word tot sowat 70 beperk; aansienlik minder as wat tydens vorige verkiesings gegeld het.

Almal wat die debat by die Case Western Reserve University bywoon, sal koronavirustoetse moet ondergaan en die voorgeskrewe veiligheidsregulasies moet volg.

Die debat duur 90 minute sonder enige advertensiepouses.

Volgens Voice of America  handhaaf Biden die afgelope weke in nasionale peilings ’n voorsprong van 7 persentasiepunte bo Trump, wat dreig om van Trump slegs die derde president die afgelope vier dekades te maak wat nie vir ’n tweede termyn verkies word nie.

Na raming sal sowat 100 miljoen Amerikaners die debat volg.

Een van die besprekingspunte sal ’n berig die naweek in The New York Times wees waarvolgens Trump in 2016 en 2017 slegs $750 aan federale inkomstebelasting betaal het. Trump het die berig as fopnuus afgemaak.

Biden en sy vrou, Jill, het ure voordat die debat sou plaasvind hul eie belastingopgawes vir 2019 bekend gemaak. Dit wys hulle het byna $300 000 se belasting betaal.

Volgens Reuters sal die 74-jarige Trump sy teenstander se rekord oor kwessies soos handel, energie en belasting aggressief betwis en die hantering van sy eie belastingsake verdedig.

Biden (77) sal na verwagting Trump se hantering van die koronaviruspandemie kritiseer asook sy pogings om Obamacare, wat miljoene Amerikaners gehelp het om gesondheidsversekering te bekom, te skrap.

Volg die debat wat omstreeks 03:00 Suid-Afrikaanse tyd begin REGSTREEKS HIER.

Voorbereidings vind plaas vir die eerste presidensiële debat in die Sheila and Eric Samson Pavilion in Cleveland. Foto: AP


Meer oor:  Joe Biden  |  Donald Trump
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.