Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Trump die besigste doodstraf-president in meer as ’n eeu

In die huidige Amerikaanse presidensiële oorgangstyd word vyf federale teregstellings beplan – die meeste in 130 jaar.

In die afgelope jare is teregstellings in die presidensiële oorgangstyd gestaak.

Indien dié beplande teregstellings in die komende weke voortgaan, sal dit die eerste mense wees wat in ’n oorgangstyd tereggestel word sedert Grover Cleveland in die 1800’s.

Cleveland se termyn was ook die laaste waarin federale teregstellings van burgerlikes in die dubbelsyfers in een jaar plaasgevind het. In 1896 was dit 14, sê Robert Dunham, uitvoerende direkteur van die Doodstraf-inligtingsentrum.

President Donald Trump Foto: AP

Saam met die beplande federale teregstellings sal die syfer uiteindelik op 13 binne ’n jaar staan (sedert Julie vanjaar), wat pres. Donald Trump die bedrywigste doodstraf-president in meer as ’n eeu sal maak.

Dunham sê dit is duidelik die Trump-administrasie wil die mense dood hê voordat Joe Biden die president word.

Dunham sê die enigste ander keer wat meer as een persoon in ’n presidensiële oorgangstyd federaal tereggestel is, was Cleveland se eerste oorgang van November 1884 tot Maart 1885.

Twee gevangenes sal na verwagting vandeesweek tereggestel word. Dit is Brandon Bernard Donderdag en Alfred Bourgeois Vrydag.

Die ander drie federale teregstellings wat voor die einde van Trump se termyn plaasvind, is dié van Lisa Montgomery op 12 Januarie, Cory Johnson op 14 Januarie en Dustin John Higgs op 15 Januarie.

Die groep Fair and Just Prosecution het verlede week ’n verklaring uitgereik om Trump te vra om teregstellings te staak tydens die oorgang van die Trump- na Biden-administrasie.

Biden, aangewese president wat op 20 Januarie ingehuldig word, steun nie die doodstraf nie.

Joe Biden, die aangewese Amerikaanse president. Foto: Reuters

Dié verklaring word ondersteun deur meer as 60 staatsaanklaers.

“Die ondergetekendes waarsku haastige teregstellings in die middel van die pandemie en in die laaste dae van die huidige administrasie, sal vertroue in die Amerikaanse regstelsel skend en ’n diep gebrekkige en onregverdige proses verewig,” lui die verklaring.

Na berig word het die Trump-administrasie vanjaar die federale doodstraf aansienlik meer benut ná ’n verposing van 17 jaar. Die Republikeinse regering het in Julie vanjaar begin voortgaan om gevangenes in dodeselle tereg te stel.

Hoewel mense elke jaar federaal tereggestel is, was dit tot vanjaar besonder skaars.

William Barr, Amerikaanse minister van justisie, sê sy departement handhaaf bloot bestaande wetgewing.

Trump sal sy kantoor ontruim nadat sowat ’n kwart van alle federale gevangenes waarvoor doodstraf opgelê is se teregstellings uitgevoer is, al taan ondersteuning vir die doodstraf onder Demokrate én Republikeine.

Teregstelling staar dié vyf in die gesig

* Brandon Bernard (teregstelling op Donderdag 10 Desember) is in 1999 skuldig bevind aan die ontvoering en moord van twee jeugpastore, Todd en Stacie Bagley, van Iowa. Hy het hul lyke in hul motor se kattebak verbrand. Begenadiging word gevra op grond van sy jong ouderdom, 18, toe die misdaad gepleeg is. Selfs Kim Kardashian West het Woensdag vir Trump gevra om Bernard se straf na lewenslange tronkstraf te verander. Hy sal die jongste mens in bykans 70 jaar wees wat federaal tereggestel word vir ’n moord wat gepleeg is terwyl hy ’n tiener was.

Brandon Bernard Foto: AP

* Alfred Bourgeois (teregstelling op Vrydag 11 Desember) wag op sy teregstelling nadat hy sy tweejarige dogtertjie in 2004 vermoor het. Hy het haar ook mishandel en gemartel. Sy aanvanklike teregstelling in Januarie is uitgestel nadat sy regspan bewyse gebring het dat hy intellektueel gestrem is, wat deur die hof aanvaar is, maar ’n hoër hof het dié beslissing in Oktober omgekeer.

Alfred Bourgeois Foto: Twitter/@douglaswt5


* Lisa Montgomery (teregstelling op 12 Januarie), oor wie Netwerk24 onlangs berig het, se teregstelling sou op 8 Desember plaasvind het, maar dit is nou uitgestel na 12 Januarie omdat haar regspan Covid-19 opgedoen het. Sy is daaraan skuldig bevind dat sy ’n swanger vrou in 2004 verwurg het en haar baba uitgesny en ontvoer het. Haar regspan sê sy het breinbeserings opgedoen as kind weens mishandeling en ly nou aan ernstige geestesgesondheidsiektes. Sy is ’n slagoffer van kinderverkragting, bloedskande en kindersekshandel. Sy sal die eerste vrou wees wat die federale regering sedert 1953 teregstel.

Lisa Montgomery Foto: Reuters

* Cory Johnson (teregstelling op 14 Januarie) is skuldig bevind aan die moord op sewe mense wat verband hou met sy betrokkenheid in dwelmhandel in Richmond, Virginië, in 1992. Sy regspan voer aan hy het ’n intellektuele gestremdheid weens fisieke en emosionele mishandeling toe hy ’n kind was.

* Dustin John Higgs (teregstelling op 15 Januarie) is in 1996 skuldig bevind aan die ontvoering van en moord op drie jong vroue in Washington DC. Higgs het nie een van hulle doodgemaak nie. Sy medebeskuldigde, Willis Haynes, het, nadat Higgs hom opdrag gegee het om dit te doen. Haynes, wat lewenslange tronkstraf opgelê is, het in die hofdokumente gesê Higgs het hom nie gedreig of gedwing om hulle te skiet nie.

- USA Today, BBC, FJP, The Guardian, CNN

Meer oor:  Joe Biden  |  Donald Trump  |  Amerika  |  Doodstraf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.