Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Trump en Kim wys albei angs – kenner
’n Gespanne oomblik tussen Kim Jong-oen (links), leier van Noord-Korea, en Donald Trump (regs), Amerikaanse president, tydens hul beraad Dinsdag in die Capella-hotel op die Sentosa-eiland in Singapoer. Foto: Getty Images

Hoewel pres. Donald Trump van Amerika en Kim Jong-­oen van Noord-Korea Dinsdag in die eerste paar minute van hul ontmoeting in Singapoer albei mag probeer uitstraal het, het hulle aan die begin eerder ’n mate van angs uitgestraal.

Lyftaalontleders het gesê in die sowat 13 sekondes wat Trump en Kim die eerste keer hande geskud het, het hy sy normale dominansie getoon deur sy hand eerste uit te steek en Kim op die skouer te klop.

“Dit was geen gewone handdruk nie,” het Allan ­­Pease, ’n Australiese kenner en skrywer van verskeie boeke oor lyftaal, gesê.

“Dit was op en af, en daar was ’n wedywering tussen die twee met albei wat die ander wou nader trek. Nie een wou toelaat dat die ander ’n dominante greep kry nie,” het hy aan Reuters gesê.

Om gesag oor te dra kom vir Trump maklik . . . hy is baie bedrewe om sy lyftaal doeltreffend te gebruik. Wat lengte betref, het hy ook ’n voordeel bo Kim.

Terwyl hulle na die biblioteek gestap het vir hul eerste gesprek op die beraad, het Trump die spanning gebreek deur met Kim te gesels en hom effens vooruit te laat loop.

Trump het egter beheer oor die gesprek behou deur Kim, wat sowat die helfte van sy ouderdom is, op die skouer te klop en hom met sy hand die vertrek in te stuur.

Kim het Trump ook geklop in ’n poging om beheer te neem. Hy het hoofsaaklik afgekyk en geluister wanneer Trump praat, maar hy het verskeie kere in die gesprek opgekyk.

“Donald Trump het in versoenende terme gepraat, amper onderdanig, maar sy liggaamstaal het duidelik gesê ‘ek is hier in beheer’,” het Pease gesê.

“As jy nie geweet het wie die mense is nie, sou jy sê die groot ou is die pa en die klein outjie is die seun.”

Karen Leong, besturende direkteur van Influence Solutions in Singapoer, het gesê Trump het nie vyandigheid getoon soos op die G7-beraad verlede week in Kanada waar hy sy bondgenote, waaronder die Europese Unie en Justin Trudeau, premier van Kanada, geroskam het nie.

Maar Trump kon nie sy begeerte na dominansie wegsteek nie.

“Elke keer wanneer hulle hande geskud het, kon jy die wit van hul vingerpunte sien – hulle is albei alfamans,” het Leong gesê.

“Hulle wil albei hul dominansie wys en dit is waarom hulle ’n sterk greep het wanneer hulle handskud.”

Volgens Leong kon nie een van hulle toe hulle gaan sit het egter wegsteek dat die senuwees knaag nie – Trump met sy skewe glimlag terwyl hy met sy hande vroetel, en Kim wat na die vloer staar.

“Trump is ’n dobbelaar en hy dobbel met die gedagte om in Noord-Korea soos ’n ouer met ’n stout kind in beheer te wees,” het Leong gesê. Dit is in teenstelling met Kim, wat in verhouding minder het om te verloor deurdat hy reeds baie vermag het met Trump wat ingestem het om hom te ontmoet.

Meer oor:  Kim Jong-­Oen  |  Donald Trump  |  Amerika  |  Noord-Korea  |  Kernkrag  |  Vrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.