Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Trump gee Turkye sy sin met skietstilstand in Sirië

Turkye het Donderdag ingestem om sy aanval in die noorde van Sirië vir vyf dae op te skort om die Koerdiese magte toe te laat om te onttrek.

Turkye se doelwit met die inval wat op 9 Oktober begin het, was juis om die Koerde, wat Turkye as terroriste beskou, uit die gebied van 480 km teen die grens tussen die twee lande te dryf. Dit word in ’n gesamentlike verklaring ná afloop van die skietstilstandooreenkoms deur die Turke en die Amerikaners nou as ’n “veilige sone” beskryf.

Turkye beskou die skietstilstand dus as ’n oorwinning.

Die skietstilstand is deur Mike Pence, die Amerikaanse adjunkpresident, aangekondig ná samesprekings in Ankara met die pres. Tayyip Erdogan van Turkye.

Pres. Donald Trump het die verwikkeling geloof en gesê dit kan “miljoene lewens red”.

Dit is onduidelik of die Koerdies geleide Siriese Demokratiese Magte (SDF) die ooreenkoms gaan eerbiedig aangesien dit die Turkse magte in beheer laat van ’n gebied wat die Koerde vroeër met Amerikaanse militêre steun beheer het.

Mazloem Kobani, SDF-bevelvoerder, het aan Ronahi TV gesê die groep sal die skietstilstand-ooreenkoms met Turkye aanvaar, maar sê dit is beperk tot die grensgebiede wat tussen die dorpe van Ras al-Ain en Tal Abiad strek.

Republikeine en demokratiese senatore het Trump daarvan beskuldig dat hy Amerika se Koerdiese bondgenote uitgelewer het deur troepe uit die gebied te onttrek, wat noodsaaklik was in die stryd teen die terreurgroep, Isis.

Hulle glo ook hy besef nie die humanitêre koste van Turkye se inval nie.

“Die veilige sone sal grootliks deur die Turkse weermag afgedwing word,” lui die verklaring wat ná afloop van samesprekings gesamentlik deur Amerika en Turkye uitgereik is.

Mike Pence
Mike Pence, Amerikaanse adjunkpresident, praat Donderdag op 'n nuuskonferensie by die Amerikaanse ambassade in Ankara, Turkye. Foto: Reuters

’n Turkse beampte het aan Reuters gesê dat Ankara “presies gekry het wat ons wou hê” uit die samesprekings met Amerika.

Die Amerikaanse senatore wat die Trump-administrasie daarvan gekritiseer het dat hulle in die eerste plek misluk het om die Turkse aanval te verhoed, sê hulle sal voortgaan met wetgewing om ondanks die aankondiging van die skietstilstand, sanksies teen Turkye in te stel.

Mevlüt Cavusoglu, Turkye se minister van buitelandse sake, het die stilstand beskryf as ’n geleentheid vir die Koerdiese vegters om te onttrek. Koerdiese vegters sal gedwing word om hul swaarkaliberwapens te oorhandig en hul posisies op te gee, sê Cavusoglu. Hy weier om die ooreenkoms ’n “skietstilstand” te noem en sê skietstilstande kan slegs deur wettige entiteite ooreengekom word en nie deur ’n Koerdiese burgermag wat Turkye as ’n terroristegroep beskou nie.

“Wanneer die terroris-elemente die veilige sone heeltemal verlaat, kan ons die operasie staak,” sê Cavusoglu.

Washington en Ankara sal saamwerk om die Isis-vegters te behartig asook hul families wat in tronke en kampe in Sirië aangehou word, luidens die gesamentlike verklaring. Daar was sedert Turkye se inval bekommernisse daaroor dat Isis weer sy voete kan vind.

Pence sê Washington is reeds in kontak met die Koerdies geleide SDF wat ingestem het om te onttrek en reeds besig was om terug te val.

Die Koerde se posisie was egter nie duidelik nie.

Kobani het aan Ronahi TV gesê die ooreenkoms is “net die begin” en sal Turkye nie help om sy doelwitte te bereik nie.

Aldar Xelil, ’n Siries-Koerdiese politikus, het aan Al Arabija-televisie gesê die Koerde sal hou by die skietstilstand, maar gaan ook hulself verdedig indien nodig.

Pence sê sodra die skietstilstand permanent word, sal Washington voortgaan met sy eie planne om Amerikaanse troepe vanuit die noorde van Sirië te onttrek.

Sirië, Turkye
Turkse soldate in die dorp Tal Abyad in Sirië. Die Turkse weermag het die foto Donderdag aan nuusdienste uitgedeel, maar nie gesê wanneer dit geneem is nie. Foto: Reuters

Trump het getwiet: “Goeie nuus vanuit Turkye. Dankie aan Erdogan. Miljoene lewens sal gered word!”

“Vandag het Amerika en Turkye ingestem tot ’n skietstilstand in Sirië,” het Pence op ’n nuuskonferensie gesê ná meer as vier uur se samespreking by die presidensiële paleis in Ankara.

James Jeffrey, Amerika se spesiale verteenwoordiger vir Siriese betrokkenheid, sê die ooreenkoms dek sentrale tot noordoostelike Sirië, terwyl Turkye in afsonderlike samesprekings met die Russe en die Siriërs oor ander dele van die streek is.

“Ons het ’n baie ingewikkelde situasie met die Russiese en Siriese weermag, asook Turkse, Amerikaanse, ADF- en sommige Daesh (Islamitiese Saat van Irak en die Levant)-elemente wat almal onbeheersd ronddwarrel,” het hy aan verslaggewers gesê terwyl Mike Pompeo, minister van buitelandse sake, van Ankara na Tel Aviv gevlieg het.

Die senator Mitt Romney, ’n Republikein, sê die ooreenkoms “is ver van ’n oorwinning af” en dring daarop aan dat die administrasie verduidelik wat met die Koerde sal gebeur, wat die toekoms van Amerika se rol in die streek is en hoekom Turkye “geen duidelike gevolge sal ervaar nie”.

“Waartoe president Trump vandag ingestem het, is om aan Turkye oor te gee ten koste van ons Koerdiese bondgenote,” sê senator Maggie Hassan, ’n Demokraat, in ’n verklaring.

Sy het bygevoeg “die ooreenkoms gaan Turkye laat wegkom met die slagting van onskuldige burgerlikes”.

 Ras al-Ain in Sirie
Rook hang Vrydag oor die dorp Ras al-Ain in Sirië. Foto: Reuters

Die Turkse aanval het op 9 Oktober begin, nadat Trump Amerikaanse troepe uit die gebied onttrek het ná ’n telefoonoproep met Erdogan drie dae vantevore.

Trump het Maandag sanksies teen Turkye aangekondig nadat die aanval begin het, maar kritici sê dié stap is te laat gedoen.

Pence sê die sanksies sal opgeskort word sodra die skietstilstand permanent is.

As dit suksesvol is, kan die ooreenkoms ’n groot skeuring tussen Washington en Turkye, die enigste Moslem-NAVO-bondgenoot, veroorsaak.

Amerika se onttrekking laat die Amerikaanse teenstanders Rusland en Iran ook in ’n veel sterker posisie in Sirië.

Die Koerde het in reaksie op Amerika se onttrekking ’n ooreenkoms met Siriese regeringsmagte – wat deur Moskou en Teheran gesteun word – gesluit om hulle te help om die Turke te stuit.

“Amerika het in werklikheid ingestem tot alles wat Turkye wou hê: ’n groen lig om in te val, die skepping van ’n enorme ‘veilige sone’ wat Koerdiese vegters moet verlaat en die beëindiging van Koerdiese outonomie,” sê Phil Gordon, ’n amptenaar van die Obama-administrasie, wat nou by die raad vir buitelandse betrekkinge betrokke is.

“Dit skaad Amerika se geloofwaardigheid. Nie net omdat Trump die Koerde verraai het nie, maar ook omdat dit weer eens vir Trump soos ’n papiertier laat voorkom – ná sy aanvanklike groot dreigemente teen Turkye het hy tog maar alles gegee wat Turkye wou hê, met bykans niks in ruil daarvoor nie.” Reuters

Meer oor:  Pres. Donald Trump  |  Turkye  |  Vsa  |  Wêreld  |  Skietstilstand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.