Die Demokratiese Party se presidentskandidate Beto O’Rourke en Cory Booker het pres. Donald Trump skerp gekritiseer omdat hy samesweringsteorieë bevorder oor ’n bekende miljoenêr en vermeende sekshandelaar se selfdood in die tronk.
Jeffrey Epstein is Saterdag dood in sy tronksel gekry nadat hy al vroeër sy eie lewe wou neem en streng dopgehou moes word sodat hy dit nie weer probeer doen nie.

Pres. Donald Trump van Amerika. Foto: Argief
Son
Trump het ’n twiet van die konserwatiewe komediant Terrence K. Williams – dat oudpres. Bill Clinton agter Epstein se dood is – hertwiet. Epstein was bevriend met Clinton en Trump.
“Dit is net nog ’n voorbeeld van ons president wat sy posisie van vertroue gebruik om sy politieke vyande aan te val met ongegronde bewerings van sameswering,” het O’Rourke tydens Sondag se uitsending van CNN se program State of the Union gesê.
O’Rourke sê Trump probeer om die aandag af te lei van kritiek teen sy rassistiese en anti-immigrante-retoriek ná twee onlangse massamoorde deur regse fanatici.
In Dayton, Ohio, het ’n man nege mense doodgeskiet en in El Paso, Texas, het ’n man wat uitgesproke was in sy haat teenoor immigrante, 22 mense doodgeskiet.
Hierna het hernude versoeke om strenger wapenbeheer in Amerika opgeklink.
“Hy verander die gesprek en as ons hom toelaat om dit te doen sal ons dit nooit regkry om op die werklike probleme, waarvan hy (Trump) deel is, te fokus nie,” het O’Rourke gesê uit El Paso, waar hy woon.

Jeffrey Epstein
New York state sex offender registry
Booker, ’n senator van New Jersey, het gesê Trump se hertwiet van die grondelose bewering “is net nog roekeloosheid”.
“Hy gee nie net vastrapplek aan samesweringsteorieë nie, maar steek landgenote op teen mekaar,” het Booker aan CNN gesê.
“Hy is ’n baie gevaarlike president. Mense se lewe word bedreig omdat die president haat teen hulle aanblaas.”
’n Ondersoek na Epstein se dood word deur die FBI en die departement van justisie gedoen. ’n Bron het gesê die spesiale aandag wat Epstein gekry het omdat hy ’n selfdood-risiko ingehou het, is onttrek. Hy het verlede maand probeer om sy eie lewe te neem, maar is bewusteloos in sy sel gevind.
New York se hooflykskouer het gesê sy is seker Epstein het homself gehang, maar wag op meer inligting voordat sy dit amptelik aankondig.
William Barr, minister van justisie, sê Epstein se selfdood in die tronk skep ernstige vrae wat beantwoord moet word.
Epstein, wat op onder meer aanklagte van sekshandel tereg sou staan, was glo betrokke by ’n sekshandelnetwerk, en bevriend met talle belangrike en bekende mense. Daar is wyd gespekuleer oor wat hy alles in sy getuienis in die hof kon kwytraak en oor wie.
Kellyanne Conway, ’n senior raadgewer van die Withuis, het gesê die ondersoek teen Epstein moet voortgaan ondanks sy dood.
“Iemand se misdade en sy aanspreeklikheid gaan nie noodwendig saam met hom dood nie.”
Trump het ’n geskiedenis dat hy samesweringsteorieë teen politieke opponente verkondig. Selfs voordat hy ’n presidentskandidaat was, het hy dit herhaaldelik bevraagteken of (oudpres.) Barack Obama in Amerika gebore is, selfs nadat Obama sy geboortesertifikaat openbaar gemaak het.
Hy het ook in die stryd om die Republikeinse Party se kandidaatskap ’n ongegronde samesweringsteorie versprei dat sy opponent sen. Ted Cruz se pa verbind word met die sluipmoordaanval op oudpres. John Kennedy. – Reuters