Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Trump gooi nóg olie op die vuur
Pres. Donald Trump staan met sy Bybel in die hand buite die Episkopale kerk St. John ná ’n nuuskonferensie in die Roostuin van die Withuis in Washington. Foto: Getty Images

Pres. Donald Trump het Maandag opnuut woede veroorsaak nadat polisie traanrook gebruik het om betogers buite die Withuis te verjaag sodat foto’s van hom by ’n nabygeleë kerk, wat in die onrus beskadig is, geneem kon word.

Dit het hom die argwaan van die stad se burgemeester, die biskop van die Episkopale Kerk en Demokrate, onder wie oudvisepres. Joe Biden, op die hals gehaal wat hom veroordeel het omdat hy die polisie se mag gebruik “net vir ’n foto”.

Trump het die historiese St. John-kerk oorkant die Withuis besoek nadat hy ’n toespraak gehou het waarin hy vandalisme tydens die anti-rassisme-betogings van die afgelope week in die land veroordeel het.

Terwyl hy gepraat het, het wetstoepassers, insluitend die militêre polisie, traanrook gevuur om vreedsame betogers uit Lafayettepark buite die Withuis te verjaag sodat die president na die kerk kon stap.

Pres. Donald Trump loop van die Withuis na die kerk. Foto: Getty Images

Ná sy toespraak het Trump deur die gebied geloop wat die polisie vir hom beveilig het tot naby die St. John Biskoplike Kerk. Daar het hy vir foto’s saam met sy dogter Ivanka en Amerika se prokureur-generaal, William Barr, geposeer.

Die St. John-kerk, wat bekend is as die “kerk van presidente”, is in die onrus Sondag met graffiti bespuit en gedeeltelik deur vlamme beskadig.

“Ons het ’n wonderlike land,” het Trump buite die kerk gesê waar hy sy Bybel omhoog gehou het. Hy het geen vrae van verslaggewers beantwoord voordat hy weer vertrek het nie.

Biden, wat as Demokratiese kandidaat vir die presidentsverkiesing in November staan, het Trump skerp veroordeel dat hy “die Amerikaanse weermag teen Amerikaanse mense wil gebruik”. Trump het vroeër gedreig om die weermag in te roep om die betogings in bedwang te kry.

George Floyd
’n Skets van George Floyd. Foto: Getty Images

“Hy het traanrook teen vreedsame betogers gebruik en hulle met rubberkoeëls geskiet. Vir ’n foto,” het Biden Maandag laat getwiet.

“Vir ons kinders, die siel van ons land, se onthalwe moet ons hom oorwin.”

Biden het ook aangekondig dat hy gister in Philadelphia “oor burgerlike onrus wat gemeenskappe oor Amerika heen bedreig”, sou praat.

Andrew Cuomo, New York se goewerneur, het ook woede oor die voorval uitgespreek.

“Wat die president vandag gedoen het, is dat hy die Amerikaanse weermag teen Amerikaanse burgers gebruik het,” het Cuomo getwiet.

“Hy het die weermag gebruik om ’n vreedsame betoging op te breek sodat hy ’n fotogeleentheid by ’n kerk kan hê. Dit is alles net ’n werklikheidsvertoning vir dié president.”

Marian Budde, Washington se Episkopale biskop, was hewig ontsteld oor die gebeure.

Die president het nie toestemming gevra vir die besoek nie, het sy aan CNN gesê.

“Ek is woedend . . . ons distansieer ons van die opruiende taal van dié president,” het sy gesê.

Sy het ook daarna verwys dat hy die Bybel vir sy fotosessie gebruik het, maar nie gebid het nie, dat hy nie die angs van Amerikaners erken nie en dat traanrook teen betogers gebruik is sodat hy by die kerk kon poseer.

“Ek kan nie glo wat my oë vanaand gesien het nie . . . ek het geen idee gehad nie,” het sy gesê.

Ook Michael Curry, die voorsittende biskop van die kerk se bisdom in Washington­, het Trump gekritiseer oor sy fotosessie.

“Daardeur het hy ’n kerkgebou en die Heilige Bybel vir partypolitieke doeleindes gebruik,” het hy op Twitter gesê. – AFP, Reuters

Meer oor:  Joe Biden  |  Donald Trump  |  Betogings  |  Withuis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.