Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Trump ‘hoor’ Kamala is nie verkiesbaar

Pres. Donald Trump van die VSA het die afgelope week ou truuks gaan afstof toe hy gestalte gegee het aan ’n samesweringsteorie dat sen. Kamala Harris nie as visepresident verkies kan word nie omdat haar ouers immigrante was.

Joe Biden, presidentskandidaat van die Amerikaanse Demokratiese Party, en sy verkiesingsmaat, Kamala Harris, Woensdag in Wilmington, Delaware. Foto: AP

“Ek het vandag gehoor dat sy nie aan die vereistes voldoen nie,” het Trump (74) Donderdag op ’n nuuskonferensie oor Harris (55) gesê.

“Ek het geen idee of dit waar is nie,” het hy bygevoeg. “Ek sou wou glo, en aanneem, dat die Demokrate dit sou vasstel voordat sy gekies is om as visepresident te staan.”

Joe Biden (77), die Demokrate se presidentskandidaat, het Dinsdag aangekondig as hy Withuis toe gaan, word Harris sy visepresident.

Haar pa, Donald Harris, kom van Jamaika, en haar ma, Shyamala Gopalan, van Indië. Die twee, albei akademici, het onderskeidelik in 1961 en 1960 na die VSA geïmmigreer. Hul dogter is in 1964 in Oakland, Kalifornië, gebore.

Kragtens die Amerikaanse grondwet kry iemand wat in die VSA gebore is outomaties burgerskap van die land, dus is dit irrelevant of die ouers Amerikaanse burgers is.

Trump se opmerkings oor Harris volg nadat John C. Eastman, ’n prokureur, die afgelope week in ’n meningstuk in Newsweek aangevoer het die grondwet word nie reg vertolk nie.

Hy opper vrae oor Harris se ouers se burgerskap ten tyde van haar geboorte, en voer aan “haar lojaliteit lê by ’n buitelandse mag of magte”.

Trump het al voorheen ’n politieke teenstander oor burgerskap bygekom.

Toe hy in 2016 in die wedloop was om die Republikeine se presidentskandidaat te word, het hy verskeie kere gesuggereer sy teenstander sen. Ted Cruz se Kanadese agtergrond sou ’n probleem wees. Cruz is in Kanada gebore, maar sy ma is ’n Amerikaner en sy pa ’n Kubaan. Volgens Eastman sou Cruz wel verkiesbaar wees.

In 2011, nog voor Trump die politiek betree het, het hy in televisieonderhoude gesê die destydse president, Barack Obama, is eintlik in Kenia gebore en behoort dus nie verkiesbaar te wees as Amerikaanse president nie.

“Dalk reik ek eendag my belastingsertifikate uit as Obama sy geboortesertifikaat uitreik,” het Trump destyds in ’n onderhoud met ABC gesê.

Obama, wat in Hawaii, ’n Amerikaanse deelstaat, gebore is, het eindelik in April 2011 sy geboortesertifikaat uitgereik.

Daarna het hy met verwysing na Trump gesê: “Hy kan nou eindelik op kwessies fokus wat saak maak, soos wanneer ons die maanlanding vervals het.” Trump het nog nooit sy belastingsertifikate uitgereik nie, aldus The New York Times.

Harris het nog nie op die bewerings gereageer nie.

* Lees ook die artikel in Weekliks.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.