Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
‘Trump is onwelkom’ in El Paso
Pres. Donald Trump is Woensdag deur ’n Baby Trump-ballon buite ’n hospitaal in Dayton, Ohio, ingewag nadat nege mense die naweek in dié stad doodgeskiet is. Foto: AP

Pres. Donald Trump van die VSA het Woensdag, ondanks teenkanting van baie inwoners van El Paso, dié grensstad in Texas besoek nadat 22 mense die naweek daar doodgeskiet is.

Hy het ook Dayton, Ohio, waar nege mense buite ’n nagklub in ’n onverwante voorval deur ’n ander skieter vermoor is, besoek.

Die twee massamoorde, wat 13 uur uit mekaar plaasgevind het, het Amerika geskok. Dit het die debat oor wapenbeheer weer laat opvlam en teenkanting teen Trump se standpunte opnuut laat opwel.

Mike DeWine, Republikeinse goewerneur van Ohio, is vroeër by ’n nagwaak vir die slagoffers begroet deur ’n skare wat gedreunsing het: “Doen iets! Doen iets!”

Die Demokrate beskuldig Trump daarvan dat hy rassehaat aanwakker.

Die El Paso-skieter het byvoorbeeld in sy “manifes”, wat aanlyn gepubliseer is, gesê hy doen dit weens die “Spaanse inval” in Texas.

Trump word nou daarvan beskuldig dat dit ’n eggo is van sy woord “inval”, wat hy gereeld gebruik om die situasie op die Amerikaanse grens met Mexiko te beskryf.

CNN het gister berig hy het byvoorbeeld al 2 200 advertensies om stemme te werf op Facebook laat plaas waarin gewaarsku word teen ’n “inval” vanuit Mexiko.

Talle hoëlui van Texas het voor Woensdag se besoeke gesê Trump is beslis nie daar welkom nie.

Die president het in Februarie die heel eerste saamtrek van sy herverkiesingsveldtog in El Paso gehou.

Veronica Escobar, Demokratiese verteenwoordiger in die kongres waaronder dié stad met sy groot Spaanse bevolking val, sê: “Ses maande later (ná Trump se besoek) het ’n gewapende in ons gemeenskap ingekom – hierdie rustige, liefdevolle plek – om ons te kom seermaak.

“Die president het van my gemeenskap en my mense die vyand gemaak.”

Die president het van my gemeenskap en my mense die vyand gemaak.
Veronica Escobar

Sy het ook ’n versoek van die Withuis van die hand gewys om Trump te vergesel.

“Ek weier om ’n medepligtige te wees,” het sy aan CNN gesê.

Beto O’Rourke, Escobar se voorganger wat tans probeer om as die Demokrate se presidentskandidaat vir volgende jaar aangewys te word, sê ook “Trump hoort nie daar nie”.

Die president het “die haat help skep wat Saterdag se tragedie moontlik gemaak het”, sê O’Rourke.

Dee Margo, burgemeester van El Paso, sê Trump se besoek is nie polities van aard nie.

“Hy is die president van die Verenigde State van Amerika. Ek sal my pligte as burgemeester nakom en hom ontmoet om hierdie gemeenskap se behoeftes aan hom oor te dra,” sê sy.

Nan Whaley, Dayton se burgemeester, sê ook sy sal die president verwelkom. Sy was wel van plan om hom te vertel “hoe min hy gehelp het” om die vraagstuk van wapenbeheer op te los.

Die El Paso-slagting is minstens die derde daad van heerssugtige geweld wat vanjaar aan die webwerf 8chan gekoppel kan word.

*Die Amerikaanse kongres wil hê die eienaar van die aanlyn boodskapforum 8chan moet kom verduidelik wat hy doen om radikale uitlatings deur sy intekenare in te perk.

Die huis van verteenwoordigers se binnelandse veiligheidskomitee het Dinsdag gesê hy wil Jim Watkins, ’n Amerikaner wat in die Filippyne bly, onder vier oë spreek.

Watkins moet kom verduidelik wat 8chan doen teen die “opbloei van ekstremistiese inhoud, insluitend witheerssugtige inhoud”.

Die komitee het ’n brief aan Watkins gestuur en sê daarin die El Paso-slagting is “minstens die derde daad van heerssugtige geweld wat vanjaar aan jou webwerf gekoppel kan word”.

Die skieter het sy “manifes”, waarin hy uitvaar teen Spaanssprekendes, op 8chan gepubliseer.

Die forum was Dinsdag onbeskikbaar nadat Epik, ’n internetdiensverskaffer, 8chan afgegooi het.

Dit volg nadat CloudFlare onmiddellik ná die El Paso-skietery opgehou het om bandwydte aan 8chan te verskaf. 8chan het hom daarna na Epik gewend.

Fredrick Brennan, wat 8chan in 2013 geskep het, sê die forum behoort toegemaak te word.

“As ek kon teruggaan en 8chan nooit skep nie, sal ek dit waarskynlik doen,” sê hy. Hy het dit met Frankenstein se monster vergelyk. – Reuters

Meer oor:  Donald Trump  |  Texas  |  El Paso  |  Demokrate  |  Rassehaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.