Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Trump-kamp is gereed vir sy vryspraak

Dit lyk nou na ’n uitgemaakte saak dat pres. Donald Trump Woensdag sal seëvier wanneer die Amerikaanse senaat stem oor of hy in sy amp moet aanbly.

Ondersteuners luister na pres. Donald Trump op ’n byeenkoms in Wildwood, New Jersey, verlede week. Foto: Reuters

’n Mosie dat getuienis teen Trump in sy verhoor in die senaat aangehoor word, is Vrydag met net twee stemme verslaan. Dit was nadat ’n handjievol Republikeinse senatore wat nog getwyfel het, besluit het om daarteen te stem om ’n uitgerekte verhoor in ’n verkiesingsjaar te keer, berig Bloomberg.

Een van die hoofgetuies wat die Demokrate wou roep, is Trump se voormalige veiligheidsadviseur John Bolton. Dié beweer volgens The New York Times meer as twee maande voordat Trump sy Oekraïense eweknie gevra het om sy politieke teenstanders te ondersoek, het hy reeds probeer om inligting by Oekraïense amptenare te kry wat Demokrate in ’n slegte lig sou stel.

Bolton het in ’n ongepubliseerde manuskrip geskryf Trump het hom vroeg in Mei verlede jaar aangesê om Wolodimir Zelenski, wat toe pas tot Oekraïense president verkies is, te bel om ’n vergadering met Rudy Giuliani te reël. Giuliani was glo op pad na Oekraïne as deel van Trump se veldtog om negatiewe inligting oor die Demokrate op te diep. Bolton skryf hy het nooit die oproep gemaak nie. Trump het egter teenoor The New York Times ontken hy het so ’n opdrag gegee.

Pres. Donald Trump, en sy vrou, Melania.

Senatore sal môre betoë van albei kante se regsverteenwoordigers aanhoor, gevolg deur twee dae van debatvoering voor die stemming Woensdagmiddag.

Die gematigde Republikeinse senator Lisa Murkowski van Alaska, wie se stem kort tevore nog in die weegskaal was, het die deurslag gegee en die aanhoor van getuienis is met 51 stemme teenoor 49 afgewys.

Trump is dus verseker van ’n vryspraak en dit beteken hy kan een of meer stemme van die Demokrate kry, berig Bloomberg.

Chuck Schumer, die Demokrate se leier in die senaat, sê die senaat “het weggedraai van die waarheid en aangegaan met ’n skynverhoor”.

Trump is veronderstel om sy staatsrede Dinsdagaand te lewer.

Die Demokrate het die Republikeine daarvan beskuldig dat hulle Trump se beweerde misdade toesmeer.

Hulle het beloof om kiesers in November daaraan te herinner hoe hul senatore oor dié saak gestem het.

Terwyl Trump se verhoor in die senaat voortgegaan het, het hy Dinsdag sy “visie” vir vrede in die Midde-Ooste uitgelê. Benjamin Netanyahu, Israel se premier, het aan sy sy gestaan en verklaar Trump is “die grootste vriend wat Israel nóg in die Withuis gehad het”.

Maar The New York Times skryf dit lyk na niks meer nie as ’n siniese poging deur twee politici wat in die moeilikheid is om die aandag van hulself af te lei.

Netanyahu staan tereg op drie korrupsieklagte.

Trump stel voor dat ’n Palestynse staat geskep word wat grense het, maar gedemilitariseer is, terwyl die VSA Israeliese nedersettings in die besette Wesoewer en Jerusalem as Israel se ondeelbare hoofstad erken.

Die Palestyne verwerp die plan.

Meer oor:  John Bolton  |  Donald Trump  |  Vsa  |  Staat Van Beskuldiging  |  President  |  Senaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.