Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Trump, Kim: Nuwe era ingelui?
Kim Jong-oen en pres. Donald Trump skud gister hand by die ondertekening van ’n geskiedkundige ooreenkoms om vrede op die Koreaanse Skiereiland te bewerkstellig. Foto: AP

“Donald J. Trump, president van die Verenigde State van Amerika” en “Kim Jong-oen, voorsitter van die kommissie vir staatsake van die Demokratiese Volksrepubliek van Korea”.

By dié twee name en ampsbeskrywings pryk Trump en Kim se handtekeninge nou op ’n geskiedkundige dokument.

Die dokument, wat Dinsdag in Singapoer onderteken is, bevat blykbaar nie veel besonderhede van die twee lande se toekomstige bande nie en is meer ’n breë verbintenis tot samewerking. En tot vrede op die Koreaanse skiereiland.

Die Noord-Koreaanse leier het volle kernontwapening nou ook swart-op-wit belowe.

In ruil daarvoor het Trump hom sekere waarborge oor sy land se veiligheid gegee.

’n Belangrike punt wat wel in die dokument staan, is dat albei hulle ook verbind tot die beëindiging van weermagoefeninge in die gebied, hul sogenaamde “war games”.

“Dit sal nie net baie geld spaar nie, maar ek dink ook dit is baie uitlokkend,” het die Amerikaanse president ná die spitsberaad op ’n nuuskonferensie in Singapoer gesê. Trump het die media alleen toegespreek nadat Kim weer vertrek het.

Hulle het vroeër Dinsdagoggend geskerts asof hulle ou vriende is.

Hulle het vroeër Dinsdagoggend geskerts asof hulle ou vriende is.

Hulle het in hul eerste ontmoeting na mekaar toe gestap en mekaar se hande stewig vasgevat voor die vlae van die VSA en Noord-Korea in ’n luukse hotel op Sentosa-eiland.

Die twee het daarna tussen 40 en 50 minute lank met die hulp van tolke alleen gepraat. Nadat hulle daarna in die tuin gaan wandel het, het hulle ’n werkmiddagete gehou wat ook deur hul amptenare bygewoon is.

Kim het gesê hulle het ’n geskiedkundige ontmoeting gehad en besluit om die verlede agter te laat.

“Dit is ’n goeie voorloper tot vrede.

“Die wêreld gaan ’n enorme verandering sien,” het hy gesê en die ontmoeting bestempel as “iets wat mense in wetenskapfiksieflieks sien”.

Volgens Trump het hy ’n “baie spesiale band” met Kim gevorm en die verhouding met Noord-Korea sal voortaan baie anders wees.

Ons gaan ’n baie gevaarlike probleem vir die wêreld uit die weg ruim.
Donald Trump

“Mense gaan baie beïndruk en baie tevrede wees. Ons gaan ’n baie gevaarlike probleem vir die wêreld uit die weg ruim.”

Gevra of hy Kim Withuis toe sal nooi, het hy gesê: “Beslis, ek sal. Hy is ’n baie talentvolle man en baie lief vir sy land.”

Trump het vroeër, terwyl die twee in die tuin gestap het, gesê die ontmoeting “het baie beter verloop as wat ’n mens kon verwag”.

Nadat hulle die dokument onderteken het, het Kim vertrek en ’n baie ingenome Trump het voor ’n saal vol joernaliste stelling ingeneem.

Hy het gesê sy ontmoeting “met voorsitter Kim was eerlik, reguit en produktief”, berig The Sydney Morning Herald.

“Soos die geskiedenis al oor en oor bewys het, kan teenstanders inderdaad vriende word.”

Trump het bevestig dat Kim hom in die dokument tot kernontwapening verbind het.

Trump het bevestig dat Kim hom in die dokument tot kernontwapening verbind het.

“Daar is geen beperking op wat Noord-Korea kan bereik as hy eers sy wapens prysgegee en vrye handel aanvaar het nie.”

Hulle het wel gesels oor die repatriasie van Amerikaanse soldate se oorskot, asook oor Noord-Korea se swak menseregtegeskiedenis.

“Ek dink dit gaan maar rof daar,” het Trump gesê. “Ons gaan iets daaraan doen.”

Op die vraag of hy meen Kim kan vertrou word om sy woord te hou, het hy gesê sy eie “instink, vermoëns en talent” sê aan hom Noord-Korea “wil ’n ooreenkoms sluit”.

“Ek dink regtig hy wil dit doen. Anders sou ek nie dié aangepak het nie.” – Reuters, Sydney Morning Herald

Meer oor:  Donald Trump  |  Kim Jong-Oen  |  Singapoer  |  Vrede  |  Beraad  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.