Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Trump kon ‘sterftes verhoed’

Die Covid-19-dodetal in Amerika kon aansienlik laer gewees het as die Trump-administrasie doeltreffender ingegryp het, sê dr. Deborah Birx, wat onder oudpres. Donald Trump die koördi­neerder­ van die Covid-19-taakspan van die Withuis was.

In ’n onderhoud met die TV-nuuskanaal CNN sê Birx die regering het aan die begin van die pandemie gesukkel.

“Daar was sowat 100 000 sterftes in die aanvanklike styging. Die sterftesyfer kon soveel laer gewees het,” sê sy.

Dr. Deborah Birx. Sy het Donald Trump se hantering van die Covid-19-krisis gekritiseer. Foto: REUTERS

Volgens ’n Reuters-telling is meer as 542 000 mense in Amerika aan Covid-19 dood, met byna 30 miljoen mense wat positief vir Sars-CoV-2 getoets is.

Trump het aan die begin van die pandemie die bedreiging nie met veel erns bejeën nie en ook ingrypings en inperkingsregulasies, wat ingestel is om die verspreiding daarvan te voorkom, gekritiseer.

Birx sê in die onderhoud sy het ’n “baie ongemaklike” oproep van Trump ontvang nadat sy in Augustus in ’n onderhoud met CNN gesê het hoe wydverspreid die virus voorkom en aan mense in landelike gebiede gesê het hulle is nie immuun nie.

“Almal in die Withuis was omgekrap oor daardie onderhoud en die duidelikheid wat ek oor die epidemie gegee het,” sê Birx.

Oudpres. Donald Trump van Amerika. Foto: Reuters

“Ek het ’n oproep van die president ontvang. Dit was baie ongemaklik, baie direk en baie moeilik om aan te hoor.”

Birx is by tye gekritiseer omdat sy nie sterk teen Trump se misleidende inligting oor die pandemie opgetree het nie. Sy het ook niks gesê toe Trump voorgestel het dat bleikmiddel ingeneem moet word om die virus dood te maak nie.

Ondanks waarskuwings het Trump ook in die laaste paar maande van sy presidentsverkiesingsveldtog groot saamtrekke gehou. Hy het die presidentsverkiesing teen pres. Joe Biden verloor wat sy veldtog grootliks gegrond het op ’n belofte om die pandemie beter te hanteer.

In die laaste maande van die Trump-administrasie is Birx opsygeskuif en die Withuis se inligtingsessies oor die pandemie is grotendeels gestaak. Sy is nie ’n pos in die Withuis saam met Biden aangebied nie en werk tans in die private sektor.

Meer oor:  Donald Trump  |  Pandemie  |  Covid-19  |  Inperkingsmaatreëls  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.