Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Trump kry wéér bloedneus in hof

Pres. Donald Trump van Amerika het nog ’n belangrike hofsaak verloor in sy poging om die onlangse Amerikaanse verkiesing in sy guns te swaai.

’n Federale regter het Saterdag ’n saak van die hand gewys deur Trump se regspan wat gepoog het om miljoene stemme in die deelstaat Pennsilvanië as ongeldig te verklaar.

Regter Matthew Brann, ’n Republikein, het beslis die pogings van Trump se veldtog om amptenare in Pennsilvanië te keer om die Demokraat Joe Biden as die wenner van die staat te bekragtig, “nie deur getuienis ondersteun word nie”.

“Hierdie hof is van spekulatiewe beskuldigings en gedwonge regsargumente sonder meriete voorsien,” het Brann in sy uitspraak geskryf.

Die regsgeding het probeer om amptenare in Amerika se sesde grootste deelstaat gegrond op bevolkingsgetalle te keer om Biden se oorwinning daar te bekragtig. Die argument was dat sekere distrikte kiesers toegelaat het om foute op hul stembriewe reg te maak nadat dit gepos is.

Die Republikeinse senator Pat Toomey van Pennsilvanië sê Trump het nou “alle moontlike regsopsies uitgeput” om die uitslag in die deelstaat te betwis.

Hy het ’n beroep op Trump gedoen om te erken hy het die verkiesing verloor.

Trump het later in ’n twiet gesê Toomey is “nie my vriend nie” en weer gesê hy beplan om die uitslag te betwis.

Pennsilvanië sal Maandag begin om die uitslag van die verkiesing daar te bevestig. Biden het die deelstaat met meer as 80 000 stemme gewen.

Trump se regspan het aangedui hulle beplan om teen Brann se uitspraak te appelleer, maar die tyd daarvoor is te min.

Biden is Vrydag ook weer as die wenner in die deelstaat Georgia aangewys nadat die stemme oorgetel is. In die proses het Trump nog 3 000 stemme bygekry teenoor Biden se 1 700.

’n Groep ondersteuners van pres. Donald Trumo betwis die uitslag van die verkiesing in Michigan. Foto: Reuters

Dit bring die verskil tussen die twee kandidate se totale getal stemme neer op minder as 13 000 oftewel 0,25 persentasiepunt.

Trump se veldtog het Saterdag gesê hulle beplan om te vra dat die stemme ’n derde keer oorgetel word.

In ’n verklaring sê Trump se regspan die aanvanklike oortel van die stemme was ’n “klug” omdat behoorlike prosesse nie gevolg is nie.

Hulle vra dat die stemme behoorlik nagegaan word om te bepaal of die handtekeninge daarop met die kiesers se werklike handtekeninge ooreenstem.

Kragtens wetgewing kan Trump se veldtog eis dat die stemme ’n derde keer oorgetel word omdat die verskil tussen die twee kandidate so klein is.

’n Derde tel van stemme word wel nie met die hand gedoen nie, maar met masjinerie wat dit blitsig weer oortel.

Trump sal in minstens drie deelstate moet seëvier om sy pos in die Withuis te behou.

Afgesien van Georgia en Pennsilvanië probeer Trump se regspan ook die uitslag in die deelstate Michigan (waar Biden met meer as 154 000 stemme voorloop), Arizona (waar Biden met 10 400 stemme wen) en Nevada (waar Biden met 33 600 stemme voorloop) betwis.

Biden, wat Trump se optrede as “totaal en al onverantwoordelik” beskryf het, het Saterdag met sy adviseurs vergader oor die oorgangsproses waarna hy kerk toe is.

Trump het Saterdag vlugtig ’n virtuele sitting van die leiers van die wêreld se 20 grootste ekonomieë bygewoon voor hy gaan gholf speel het. – Reuters, bygewerk

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.