Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Trump laat vaar G7-plan ná kritiek

Pres. Donald Trump van Amerika het Saterdag sy planne laat vaar om die G7-beraad volgende jaar op sy gholflandgoed in Florida aan te bied.

Trump het onder skoot gekom nadat daar verlede week aangekondig is hy gaan die ekonomiese beraad van die sewe grootste nywerheidslande ter wêreld by sy gholflandgoed aanbied en die Demokrate het hom daarvan beskuldig dat hy sy mag misbruik.

Mick Mulvaney, Trump se waarnemende personeelhoof, het verlede Donderdag op ’n nuuskonferensie aangekondig dat die G7-beraad van 10 tot 12 Junie op die Trump National Doral-gholflandgoed naby Miami gehou sal word.

Mulvaney het aan verslaggewers gesê die gebruik van Doral “is miljoene dollars goedkoper” as enige ander fasiliteit wat oorweeg is en dit sal ’n besparing “van nagenoeg 50%” meebring.

Trump het Sondag op Twitter gesê hy laat vaar die plan te midde van “die Demokrate en media se mal en irrasionele kwaadwilligheid”. Hy sê in nog ’n twiet dat daar geen wins uit die reëling gemaak sou word nie.

Die Amerikaanse kongres is besig met ’n aantal ondersoeke na Trump se finansies, wat moontlike botsende belange tussen sy sakeryk en sy presidentskap insluit.

Trump het ook weer teruggekap oor die ondersoek deur die huis van verteenwoordigers oor die moontlikheid om hom in ’n staat van beskuldiging te plaas. Die ondersoek spruit voort uit beweringe deur ’n fluitjieblaser wat in September na vore gekom het en sê Trump het sy mag misbruik deur druk op pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne te plaas om in die 2020- presidensiële verkiesing in te meng.

Trump het weer Sondagaand daaroor getwiet en sê dit is ’n bedrogspul deur die Demokrate wat op hom en die Republikein gemik is aangesien Zelenski bevestig het Trump het nie druk op hom geplaas nie. Trump sê ook die fluitjieblaser is nou nêrens te vinde nie. Reuters

Meer oor:  G7  |  Trump
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.