Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Trump maak reg om 2 000 immigrante te deporteer

Amerika gaan Sondag begin om op sowat 2 000 immigrantefamilies toe te slaan wat vir deportasie in aanmerking gekom het.

Dit is deel van ’n landwye optrede waarmee pres. Donald Trump al lank dreig.

Trump het reeds op 17 Junie op Twitter gesê dit gaan dadelik gebeur, maar dit is toe vertraag weens verskille in die regering, het The New York Times Donderdag volgens Reuters berig.

Regsverteenwoordigers van immigrante sê die vooraf waarskuwing het mense wat gesoek word tyd gegee om pad te gee en inhegtenisneming vry te spring.

President Donald Trump
President Donald Trump hou 'n kopie van sy verbod rondom immigrasie met Meksiko vas terwyl hy die media toespreek buite die Withuis. Foto: Reuters

Beamptes van immigrasie en doeanebeheer (ICE) sê in ’n verklaring spesifieke besonderhede van die optrede gaan nie bekend gemaak word nie. Volgens hulle kan almal wat die immigrasiewette oortree, in hegtenis geneem word, aangehou en gedeporteer word.

Daar sal gekonsentreer word op sowat 2 000 families wat reeds deportasiebevele in spesiale howe gekry het.

“Om 2 000 mense te deporteer is nie baie in die groter prentjie nie,” sê Stephen Yale-Loehr, ’n hoogleraar wat in immigrasie spesialiseer aan die Cornell-regskool.

Volgens hom is daar in oudpres. Barack Obama se tyd meer as 400 000 mense per jaar gedeporteer.

“Aan die ander kant maak dit vrees in mense wakker net omdat hulle hoor daar word sulke aksies onderneem en dit kan hulle laat wegkruip of ander dinge laat doen.”

Volgens hom wil Trump al maande lank iets doen, want met die komende presidentsverkiesings volgende jaar wil hy aan sy ondersteuners wys dat hy sy aanvanklike verkiesingsbeloftes nagekom het.

Beamptes het aan die Times gesê families wat in hegtenis geneem word, sal so ver moontlik gesamentlik in sentrums in Texas en Pennsilvanië aangehou word of in hotelle totdat hul deportasiedokumente gereed is. Die omvang van die optrede sal waarskynlik kleiner wees as wat Trump aanvanklik aangekondig het toe hy gesê het amptenare gaan met ’n proses begin om “miljoene onwettige immigrante te verwyder”.

Nancy Pelosi, die mees senior Demokraat in Amerika, het die optrede “harteloos” genoem en ’n beroep op Spaans-Amerikaanse evangeliste – “wat gehelp het om Trump verkies te kry” – gedoen om hom te vra om nie met die veldtog voort te gaan nie.

Demokrate en Republikeine is bang dat die groot getalle immigrantfamilies wat op die suidelike grens met Mexiko aankom, saam met berigte dat hulle mishandel word, in ’n humanitêre krisis kan ontaard.

Kerkleiers en gemeenskapsleiers in Chicago moedig mense aan om nie hul deure oop te maak vir amptenare van ICE wat nie lasbriewe het nie. – Reuters

Sensus 2020

Trump gaan nie meer daarvoor veg dat ’n vraag oor burgerskap op die sensusvorm van 2020 bygevoeg moet word nie, berig die BBC.

Sy poging om dit te doen het sterk teenstand gekry en is in Junie deur die hooggeregshof verbied. Kritici sê dis ’n polities gemotiveerde vraag en dit kan daartoe lei dat minder immigranthuishoudings aan die sensus deelneem.

Trump sê hy sal ’n uitvoerende bevel gee dat regeringsagentskappe dokumente oor burgerskap moet oorhandig – “en so kry ons dan in elk geval die inligting”.

Meer oor:  Donald Trump  |  Immigrante  |  Immigrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.