Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Trump kom in Brittanje aan vir gesprek en tee met koningin
Pres. Donald Trump kom by die Stansted-lughawe in Brittanje aan. Foto: Reuters

Pres. Donald Trump het Donderdag in Brittanje aangekom vir gesprekke met politieke leiers te midde van betogings oor Brexit – en ook vir tee saam met koningin Elizabeth.

Pres. Donald Trump en Theresa May, eerste minister van Brittanje, tydens vandeesweek se Navo-beraad in België. Foto: AP Photo/Markus Schreiber

Hy het geland pas ná die Navo-beraad waar hy Duitsland en ander Europese lande gekasty het oor hulle glo nie genoeg op verdediging bestee nie, terwyl Theresa May, eerste minister, hoop dat die besoek bande tussen Brittanje en Amerika sal versterk.

“Daar is geen sterker bondgenootskap as ons buitengewone verhouding met Amerika nie en daar sal nie ’n belangriker alliansie in die komende jare wees nie,” het May in ’n verklaring gesê.

Trump se besoek val saam met ’n stormagtige week vir May, met twee senior ministers wat bedank het uit protes teen haar planne vir handel met die Europese Unie nadat Brittanje dit aanstaande Maart verlaat.

Hy het reeds oor dié debat gesê Brittanje is “ietwat in beroering” en dat dit van die burgers afhang of May in haar pos aanbly.

Trump steun Brexit al lank en het sy entoesiasme uitgespreek oor ’n omvattende handelsooreenkoms met Brittanje nadat hy die EU verlaat het, iets wat Euroskeptici as een van die voordele beskou.

Ondanks die verwelkoming deur May, bly talle Britte diep gekant teen Trump se besoek.

’n Aanlyn opname van YouGov het Woensdag bevind dat 77% van deelnemers ’n swak indruk van Trump het en slegs 50% dink die besoek moet voortgaan.

Pres. Donald Trump van Amerika staan by sy vrou, Melania, terwyl Theresa May, Britse eerste minister, toekyk tydens ’n beraad van Navo vandeesweek. Foto: Benoit Doppagne via REUTERS

Ian Blackford, leier van die Skotse Nasionale Party in die parlement, sê ook dit is betreurenswaardig dat die regering van die Konserwatiewe Party die rooi tapyt vir Trump uitrol.

’n Hoë heining is opgerig om die Amerikaanse ambassadeur se woning in Londen waar Trump Donderdagaand sal deurbring.

Die ambassade het ook ’n waarskuwing aan Amerikaners in Londen gestuur om ’n “lae profiel” te handhaaf indien betogings gewelddadig raak.

Meer as 60 000 gaan na verwagting Vrydag in Londen betoog, waar beplan word om ’n ballon van Trump as ’n oranje baba oor die parlement te laat hang.

Trump sal Winston Churchill, ’n oudpremier van Brittanje, se geboorteplek – Blenheim-paleis – Donderdag besoek.

May sal ook ’n deftige dinee vir Trump aanbied met senior ministers en sowat 100 sakeleiers wat dit gaan bywoon.

Die twee leiers gaan Vrydag by die eerste minister se ampswoning op die platteland, Chequers, vergader om betrekkinge met Rusland, handel, Brexit en die Midde-Ooste te bespreek.

Trump sal later na die Windsor-kasteel gaan vir tee met die 92-jarige koningin. Wanneer hy Brittanje Sondag verlaat ná ’n besoek aan Skotland, waar hy twee gholfbane besit, sal hy na Helsinki reis vir ’n beraad met pres. Wladimir Poetin van Rusland. – Reuters

Meer oor:  Theresa May  |  Donald Trump  |  Brittanje  |  Koningin  |  Brexit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.