Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Trump-prokureur in hospitaal met Covid-19

Rudy Giuliani, pres. Donald Trump se persoonlike prokureur, wat help om die “mees korrupte verkiesing nog” aan die kaak te stel, is die naweek positief vir die koronavirus getoets.

Rudy Giuliani (76), die persoonlike prokureur van pres. Donald Trump, het positief vir Covid-19 getoets. Foto: Jonathan Ernst/Reuters

Reuters berig nadat Trump Sondag aangekondig het dat die 76-jarige Giuliani positief vir die virussiekte getoets is, moes ’n wetgewer in een van die Amerikaanse deelstate ’n week lank sluit nadat hy daar besoek afgelê het om die wetgewers te probeer oortuig om Trump se verkiesingsnederlaag om te keer.

Guiliani is die jongste van ’n string mense in Trump se sirkel, onder wie Trump self, wat positief vir die virussiekte getoets is. Byna 15 miljoen Amerikaners is reeds positief vir die virussiekte getoets, terwyl meer as 280 000 Amerikaners aan die virussiekte dood is.

Trump het die nuus oor Guiliani Sondag op Twitter bekend gemaak en getwiet dat “die beste burgemeester in die geskiedenis van New York, wat onverpoosd gewerk het om die mees korrupte verkiesing (by verre) in die geskiedenis van die VSA bloot te lê is positief vir die China-virus getoets”.

Trump het wéér na Covid-19 as die “China-virus” verwys, al is hy al telkens daaroor gekritiseer.

Giuliani het Sondagaand in ’n twiet “vriende en volgelinge” wat bekommerd is oor hom, bedank.

“Ek ontvang wonderlike sorg en ek voel goed. Ek herstel vinnig en bly op die hoogte van alles,” het hy op Twitter geskryf.

Twee bronne het aan Reuters gesê Giuliani is in die Georgetown University Hospital in Washington, D.C.

Die hospitaal het nie onmiddellik op navrae gereageer nie.

Giuliani is aan die stuur van Trump se poging om Joe Biden, Amerika se aangewese president, se oorwinning te laat omkeer.

Trump en Guiliani het albei herhaaldelik gesê die uitkoms is deurspek met bedrog, al kon hulle geen bewyse daarvoor lewer nie.

Die departement van justisie het verlede week gesê geen bewyse van verkiesingsbedrog kon gevind word nie.

Giuliani was Donderdag in Georgia waar hy by wetgewers gepleit het om tussenbeide te tree om Biden se oorwinning in dié staat om te keer nadat hy soortgelyke pleidooie Woensdag in Michigan en Maandag in Arizona gelewer het.

Die wetgewer in Arizona het gesê albei kamers sal die week weens onlangse Covid-19-gevalle gesluit word.

Dit is nadat Giuliani verlede week met omtrent 12 Republikeinse wetgewers vergader het.

Trump en baie van sy nabye ampsgenote ignoreer gesondheidsamptenare se raad om maskers te dra en groot byeenkomste te vermy.

Dit is terwyl die virussiekte in die land die afgelope tyd in aanloop tot die winter rekordhoë infeksiesyfers gehaal het.

Meer oor:  Donald Trump  |  Rudy Giuliani  |  Amerika  |  Withuis  |  Koronavirussiekte  |  Covid-19  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.