Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Trump se nuwe raadgewer het sterk Vrystaat-bande

Pres. Donald Trump van Amerika se nuwe veiligheidsraadgewer het sterk Vrystaatse bande. Hy het by Kovsies gestudeer en het binne ’n japtrap Afrikaans bykans vlot geleer praat.

Boonop het Robert O’Brien, wat vandeesweek deur Trump aangestel is nadat hy John Bolton afgedank het, met ’n meisie van Burgersdorp getrou.

Die president is volgens The Guardian beïndruk met dié advokaat van Los Angeles se suksesvolle onderhandelinge vroeër vir die vrylating van Amerikaanse gyselaars.

Pres. Donald Trump praat hier met adjunkpresident Mike Pence. Robert O’Brien, die nuwe veiligheidsraadgewer, sit heel regs langs Pence. Foto: AP

Prof. Karel von Eschwege, hoogleraar in chemie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), sê hy onthou die dag toe hy as honneurstudent by die Olienhout-koshuis uitgestap het en prof. Wynand Mouton, destydse rektor, en O’Brien by die voordeur ingestap het.

“Dit was in 1987. Hy het my aan Robert voorgestel en van toe af was ons bevriend.”

Hy en O’Brien het ’n groot passie vir die politiek gedeel. Dit was in die tyd van PW Botha, Magnus Malan en die grensoorlog.

“Ons het nagte om in daardie klein koshuiskamer politiek gesels.”

O’Brien het ’n beurs gekry waarmee hy enige plek ter wêreld kon gaan studeer. Sy eerste keuse was om persoonlik ondersoek te kom instel na “die mees gehate politieke stelsel” in die wêreld; apartheid.

“Alles van die beste.” Dié woorde is uit die pen van Robert O’Brien, pres. Donald Trump se nuwe veiligheidsraadgewer. Hy het ’n ruk lank aan die Universiteit van die Vrystaat gestudeer waar hy ook Afrikaans leer praat en skryf het. Foto: Theo Neethling

In daardie tyd het die twee studente saam oor Suider-Afrika heen gereis. Die groot respek waarmee O’Brien mense van alle kulture en maatskaplike vlakke op hul reise behandel het, was opmerklik.

“Ek het hom ook geneem om ’n springbok op ons familieplaas, Patria, in die Smithfield-distrik in die Suid-Vrystaat te gaan skiet.”

In sy Kovsie-jare het O’Brien ’n mede-student, Lo-Mari Thuynsma, ’n “boeremeisie” van Burgersdorp, ontmoet en later met haar getrou.

O’Brien se boek, While America Slept.Foto: Theo Neethling

Sowat ’n jaar later het hy Von Eschwege en sy broer Tertius na Amerika genooi.

Hier het hulle onder meer die lugmagbasis waar die fliek Topgun geskiet is, besoek.

Hulle hou steeds kontak, en O’Brien en sy gesin hou soms vakansie in Jeffreysbaai, waar sy skoonouers woon.

Von Eschwege reken O’Brien se diplomatiese benadering bring ’n positiewe bydrae tot die Trump-administrasie.

“Dit is ’n baie goeie aanstelling vir die Amerikaanse president.”

O’Brien het onder prof. Daan Wessels, voormalige hoof van die departement politieke wetenskap aan die UV, gestudeer. Hy het onlangs sy boek, While America Slept, aan prof. Wessels gestuur, wat ná sy afsterwe aan prof. Theo Neethling, huidige hoof van die departement, gegee is.

Die boek is geteken met die woorde: “Alles van die beste. R.C. O’Brien”.

obrien
Koshuismaats, confidante en pêlle. Robert O’Brien en prof. Karel von Eschwege. “Robert het donkerbruin hare gehad, maar is nou heeltemal grys,” sê Von Eschwege.Foto: Verskaf
trump
Robert O’Brien en sy vrou, Lo-Mari, Vrydagaand, 20 September, by ‘n amptelike staatsete wat die Withuis vir die Australiese Eerste Minister gehou het. Lou-Mari is van Burgersdorp in die Vrystaat en het haar man ontmoet toe hy in 1987 ‘n jaar lank by Kovsies studeer het. Foto: Verskaf

Meer oor:  Robert O’Brien  |  Pres. Donald Trump  |  Vrystaat  |  Vsa  |  Wêreld  |  Veiligheidsraadgewer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.