Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Trump se veldtog gaan sukkel ná virusdiagnose

Die Amerikaanse presidentsverkiesing op 3 November is in ’n nog groter warboel gedompel ná die nuus vroeg Vrydagoggend dat pres. Donald Trump positief vir die koronavirus getoets is.

Kenners van die Amerikaanse politiek meen Trump se diagnose sal die Demokratiese Party se kandidaat, Joe Biden, ’n voormalige visepresident, bevoordeel.

Die jongste meningspeilings wys dat Trump tans agter in dié omstrede presidentswedloop is.

Trump en sy vrou, Melania, wat ook positief getoets is, is in selfisolasie in die Withuis in Washington.

As hy binne twee weke gesond is, sal dit net betyds vir die tweede presidensiële debat op 15 Oktober (die vroeë oggendure van 16 Oktober, Suid-Afrikaanse tyd) wees.

As hy ernstig siek sou word, sal visepres. Mike Pence tot en met die verkiesing op 3 November as president waarneem. Pence het intussen negatief vir die virus getoets.

Geen Amerikaanse verkiesing is nog uitgestel nie.

Dit is nie bekend of Biden moontlik ook die virus opgedoen het nadat hy en Trump vandeesweek in Cleveland, Ohio, aan die eerste presidensiële debat deelgeneem het nie.

Hoewel hulle etlike meter uit mekaar gestaan het, het Trump in dié debat ’n paar keer op Biden geskree.

The New York Times berig as Trump baie siek sou word, kan dit vrae laat ontstaan of sy naam steeds op die stembrief moet bly.

Trump, wat selde ’n masker in die openbaar gedra het, het Vrydag in die vroeë oggendure op Twitter aangekondig dat hy en sy vrou positief getoets is.

trump covid twiet

Dié aankondiging het gekom slegs enkele ure nadat dit bekend geword het dat Hope Hicks, ’n top-raadgewer van die president, positief getoets is.

Hicks, wat gereeld ’n masker dra, het vroeër vandeesweek saam met die president in beide Air Force One (die presidensiële vliegtuig) en Marine One (die presidensiële helikopter) gereis.

trump covid twiet

Finansiële markte wêreldwyd het negatief op die nuus oor Trump gereageer. Dit word beskou as een van die ergste siektes wat ’n dienende Amerikaanse president nog getref het.

The Washington Post berig lede van Trump se raadgewers het in die vroeë oggendure vergader oor wat moet gebeur as Trump te siek sou word om met sy werk voort te gaan.

Die publikasie meen ook die siekte kan sy verkiesingsveldtog negatief beïnvloed.

Prof. Thomas Gift, ’n politieke wetenskaplike aan die University College London, het in verskeie televisie-onderhoude gesê Trump se siekte sal Biden bevoordeel.

Die verkiesingsbyeenkoms wat Trump Sondag in Florida sou hou, is noodgedwonge afgestel. Hy het ook al sy ander verpligtinge gekanselleer en sal van die Withuis af werk.

Trump het die laaste paar maande onder baie kritiek deurgeloop oor sy hantering van die pandemie in die land, waar 207 000 mense reeds aan Covid-19 dood is en 7,3 miljoen die virussiekte opgedoen het.

Pres. Donald Trump op besoek aan Morrisville, Noord-Carolina op 27 Julie. Foto: AP

Die Amerikaanse president het enkele ure voordat hy aangekondig het dat hy en sy vrou positief getoets is, beweer dat die “einde van die pandemie in sig is,” berig The New York Times.

Verlede maand het dit bekend geword dat Trump geweet het hoe dodelik Covid-19 is, maar dit onderspeel het omdat hy “nie paniek in Amerika wou saai nie”.

Hy het dit aan die legendariese veteraan-joernalis Bob Woodward erken, wat sedert Desember verlede jaar en in Julie vanjaar 18 onderhoude vir sy boek Rage, wat pas verskyn het, met die president gevoer het.

Trump het Covid-19 in ’n stadium selfs met “ligte griep” vergelyk.

Vlootkommandeur (dr.) Sean Conley, Trump se internis, het in ’n verklaring gesê Trump “vaar goed” en hy glo die president sal met sy werk kan voortgaan terwyl hy herstel.

Ander medici het aan koerante en TV-stasies gesê dit is nog te vroeg om te sê hoe die siekte hom gaan raak. Sy ouderdom en die feit dat hy oorgewig is, tel nie in sy guns nie. Meer as ’n miljoen mense wêreldwyd is al aan Covid-19 dood.

Mense in die Withuis het gesê Trump se stem het Donderdag “rasperagtig” geklink.

Melania het op Twitter gesê sy en haar man voel goed.

melania twiet

Die nuus dat Trump die virus onder lede het, volg enkele maande nadat onder andere Boris Johnson, die Britse premier, en pres. Jair Bolsonaro van Brasilië, ook positief getoets is.

Johnson was aanvanklik nie baie siek nie, maar het uiteindelik in die waakeenheid beland.

Boodskappe van beterskap van wêreldleiers het kort ná die aankondiging begin instroom.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.