Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Trump skeld Snowden dalk kwyt

Pres. Donald Trump oorweeg presidensiële kwytskelding vir Edward Snowden, wat in 2013 hope staatsgeheime aan die media uitgelek het.

Snowden, ’n voormalige werknemer van die Amerikaanse spioenasiediens, die CIA, skuil tans in Rusland.

Dit is ’n taamlike ommeswaai omdat Trump kort ná die lekkasie gesê het Snowden is ’n “spioen wat tereggestel behoort te word”.

Trump het verlede week in ’n onderhoud met New York Post gesê “daar is baie mense wat meen hy is nie regverdig deur wetstoepassers behandel nie”.

Die president het die naweek op ’n mediakonferensie by sy gholfklub in Bedminster, New Jersey, oor moontlike kwytskelding gesê: “Ek gaan daarna begin kyk.”

Edward Snowden neem in 2017 via ’n videoskakel deel aan ’n openbare gesprek in Estoril, Portugal. Foto: Reuters

Amerikaanse owerhede probeer al lank om Snowden terug in die land te kry nadat hy gevlug het toe aanklagte van spioenasie in 2013 teen hom aanhangig gemaak is.

Hy het hope geheime dossiere aan die media beskikbaar gestel wat bewys het die nasionale veiligheidsagentskap (NSA) op mense spioeneer, binnelands en in die buiteland.

Talle Europese regerings en telekommunikasiemaatskappye was ook kop in een mus met die NSA.

Snowden het ná sy tydperk by die CIA subkontrakteurswerk vir die NSA gedoen.

Hy het asiel in Rusland gekry.

Anatoli Koetsjerena, sy Russiese prokureur, het die naweek aan die nuusagentskap RIA gesê Amerika moet Snowden nie net vryspreek nie, maar alle moontlike stappe teen hom staak omdat hy niks verkeerd gedoen het nie.

“Hy het nie net in die belang van Amerikaanse burgers opgetree nie, maar in die belang van die hele mensdom,” het Koetsjerena gesê.

Die departement van justisie het ’n jaar gelede ook ’n tweede saak teen Snowden aanhangig gemaak. Hulle voer aan hy het werkgewersklousules oor die bekendmaking van inligting verbreek met die publikasie van sy memoire, Permanent Record.

Die miljoene dokumente wat Snowden bekend gemaak het, het volgens sy ondersteuners Amerika se omvangryke digitale spioenasie op tuisgrond blootgelê – iets wat die regering vroeër ontken het.

Sy kwytskelding sal ’n terugslag wees vir die intelligensiegemeenskap, wat op algehele geheimhouding staatmaak.

Trump is egter nie ’n slaafse ondersteuner van dié broederskap nie. Hy het al in die verlede top-beamptes in Amerikaanse intelligensie-agentskappe gekritiseer en het selfs Donderdag ’n dwarsklap gemik na Christopher Wray, direkteur van die federale speurdiens (FBI), al het hy Wray self aangestel. – Reuters

Meer oor:  Edward Snowden  |  Donald Trump
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.