Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Trump ver van klaar met politiek

Pres. Donald Trump se termyn as Amerikaanse president kom Woensdag tot ’n einde, maar sy politieke loopbaan is nog lank nie verby nie.

Trump het Dinsdag in ’n afskeidsboodskap, wat vooraf opgeneem is, gesuggereer sy politieke toekoms sal voortgaan, al meen voormalige raadgewers sy politieke toekoms is verby ná die gewelddadige betogings buite die Amerikaanse kongresgebou nadat Trump-ondersteuners die gebou bestorm het.

Dié bestorming op 6 Januarie het gewelddadig geraak met vyf mense wat tydens die betogings dood is.

“Nou, terwyl ek voorberei vir ’n nuwe administrasie om Woensdag oor te neem, wil ek hê julle moet weet die (politieke) beweging wat ek begin het, is nou maar aan sy begindae,” het Trump gesê.

Trump sê hy verlaat die Withuis met ’n lojale, vreugdevolle hart, sowel as ’n optimistiese gees en vertroue dat die beste nog vir Amerika en sy kinders voorlê.

Hy het ook dele van sy presidentskap uitgelig waarop hy trots is.

“Ons het gedoen waarvoor ons gekom het, en soveel meer. Ek het moeilike gevegte aangedurf, die moeilikstes, en die moeilikste besluite geneem, want dit is waarvoor julle my verkies het,” het hy gesê.

Trump het ook na “sensuur” verwys, hoewel hy nie direk oor Twitter se besluit gepraat het nie.

Twitter het Trump op sy platform verbied omdat hulle meen hy moontlik geweld mag aanhits.

Trump meen dit is ’n aanslag op Amerika om oop en vry debatte te verbied.

“Amerika is nie ’n bedeesde nasie van getemde siele wat beskerm moet word teen mense met wie ons nie saamstem nie,” het hy gesê.

Pres. Donald Trump meen sy politieke toekoms is nog lank nie verby nie. Foto: Reuters

Trump, wat die amp Woensdag te midde van verdeeldheid verlaat, het ook in sy afskeidsboodskap oor die gewelddadige betogings by die kongresgebou gepraat.

Hy meen alle Amerikaners was geskok deur hierdie aanslag op die kongresgebou.

“Politieke geweld is ’n aanval op alles wat ons as Amerikaners koester. Dit kan nooit geduld word nie.”

Die Amerikaanse huis van verteenwoordigers het Trump verlede week in ’n staat van beskuldiging gestel en hom beskuldig dat hy agter die betogings sit.

Die huis meen Trump het sy ondersteuners aangehits om die kongresgebou aan te val en die bevestiging van Joe Biden as Amerika se aangewese president, in die wiele te ry.

Trump beweer al sedert 3 November dat die Demokrate die Amerikaanse verkiesing gesteel het, hoewel hy geen bewyse vir hierdie stellings kan verskaf nie.

Hy het ook geweier om toe te gee of te erken dat hy die verkiesing verloor het.

Trump het in sy afskeidsboodskap melding gemaak daarvan dat ’n nuwe administrasie oorneem, maar Biden glad nie by die naam genoem nie.

Hy gaan ook nie by Biden se inhuldiging wees nie. – Reuters

Meer oor:  Joe Biden  |  Donald Trump  |  Amerika  |  Withuis  |  Vsa-Verkiesing  |  Amerikaanse Verkiesing  |  Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.