Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Trump verbyster Suid-Korea

Noudat die aanvanklike diplomatieke euforie oor die spitsberaad tussen die VSA en Noord-Korea verby is, begin al hoe meer stemme opklink dat stabiliteit in Oos-Asië nog lank nie gewaarborg is nie.

Noord-Koreaanse koerante het Woensdagoggend breedvoerig berig oor die byeenkoms tussen hul leier, Kim Jong-oen, en pres. Donald Trump in Singapoer.

Dit is as ’n klinkende sukses bestempel. Daar is baie klem gelê op die feit dat Kim volle kernontwapening beloof het, asook dat Trump sekere veiligheidswaarborge verskaf het en beloof het dat sanksies verslap sal word.

Noord-Koreane lees gisteroggend die koerante waarin oor die geskiedkundige beraad tussen hul leier, Kim Jong-oen, en pres. Donald Trump van die VSA berig is. Foto: Reuters

Die Amerikaanse leier het op ’n mediakonferensie ná die beraad gesê sanksies sal weldra afgeskaal word, maar net namate die twee lande se band versterk.

Hy het ook gesê die gesamentlike gevegsoefeninge wat die VSA en Suid-Korea gereeld hou, gaan beëindig word.

Dié aankondiging het die Suid-Koreane ooglopend onkant betrap. Pres. Moon Jae-in het glad nie daarvan geweet nie.

Kim Eoei-kjeom, ’n presiden­siële woordvoerder, het by navraag gesê hulle moet nou bevestig presies wat Trump bedoel het. Moon en sy kabinet kom vandag byeen om die Singapoer-beraad te bespreek.

Die Republikeinse senator Lindsey Graham het egter in Washington gesê Trump se rede vir die beëindiging van die gevegsoefeninge is “belaglik”.

Trump het gesê dit kan nie voortgaan “terwyl daar in goeder trou onderhandel word nie” en dat dit “boonop baie geld kos”.

“Dit is glad nie ’n las vir die Amerikaanse belastingbetaler om ’n ontplooide mag in Suid-Korea te hê nie,” het Graham aan CNN gesê.

“Dit bring stabiliteit en is ’n waarskuwing aan China dat hy nie die hele streek kan oorneem nie. Ek verwerp die analise dat dit te veel kos. Ek steun wel ’n voorstel dat dit tydelik gestaak word terwyl ons kyk wat voorlê.”

Noord-Korea se oostelike buurland, Japan, het gesê hoewel Kim kernontwapening belowe het, is geen beslissende stappe nog gedoen nie.

Japan sal sy waaksaamheid daarom nie verslap nie.

Die joernalis Nicholas Kristof het in ’n rubriek in The New York Times geskryf Trump het baie prysgegee, maar “weinig gekry” behalwe ’n belofte van ontwapening sonder besonderhede.

“Ons beskou die gesamentlike oefeninge tussen die VSA en Suid-Korea, asook die VSA se teenwoordigheid in Suid-Korea, as noodsaaklik vir die veiligheid van Oos-Asië,” het Japan se minister van verdediging, Itsoenori Onodera, gesê.

“Ons is glad nie van plan om ons oefeninge saam met die VSA te verander nie.”

Taro Kono, die Japanse minister van buitelandse sake, voer vandag samesprekings met sy ampsgenote van die VSA en Suid-Korea, Mike Pompeo en Kang Kjoeng-wha.

Intussen kom Trump onder skoot van sy kritici wat meen hy het te veel prysgegee. Die beraad het Kim internasionale aansien gegee, meen hulle.

“Noord-Korea het presies gekry wat hy wou gehad het,” het Moon Seong-moek, hoof van die verenigingsentrum in Seoel, Suid-Korea, gesê.

“Kim het op gelyke voet met Trump vergader en dit reggekry dat die VSA sy gevegsoefeninge opskort. Dit is ’n oorwinning vir Kim Jong-oen.”

Die joernalis Nicholas Kristof het in ’n rubriek in The New York Times geskryf Trump het baie prysgegee, maar “weinig gekry” behalwe ’n belofte van ontwapening sonder besonderhede.

“Die ‘spesiale band’ met Kim waarvan Trump gepraat het, sal in Noord-Korea só geïnterpreteer word: Kim het die Amerikaanse president met sy kerntoetse gedwing om Noord-Korea as ’n gelyke te aanvaar. Trump is om die bos gelei,” skryf Kris­tof. - Reuters 

Meer oor:  Pres. Donald Trump  |  Kim Jong-Oen  |  Noord-Korea  |  Vsa  |  Singapoer  |  Wêreld  |  Politiek  |  Samesprekings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.