Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Trump voor VN: ‘Ons soek vennote, nie vyande’

Pres. Donald Trump van Amerika het Iran se “bloeddorstigheid” veroordeel, maar gesê daar is wel ’n pad na vrede.

Trump het Dinsdag ander nasies gevra om hom te steun om druk op Iran toe te pas ná die aanvalle op olie-aanlegte in Saoedi-Arabië.

“Amerika weet enigiemand kan oorlog maak, maar net die dapperstes kan vrede kies,” het hy in ’n toespraak voor die algemene vergadering van die Verenigde Nasies (VN) se jaarlikse byeenkoms van wêreldleiers in New York gesê.

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk het pres. Hassan Rouhani van Iran probeer aanspoor om met Trump te vergader deur daarop te wys dat dit ’n “verlore geleentheid” sal wees as hy dit nie doen nie.

Boris Johnson, Britse premier, het Rouhani ook aangeraai om “in te spring” en met Trump te praat.

Pres. Donald Trump in sy derde toespraak voor die VN. Foto: Getty Images

Iran het tot dusver geweier om met Amerika te praat totdat daar nie teruggekeer word na die kernverdrag van 2015 waaraan Trump Amerika verlede jaar onttrek het nie. Iran eis ook dat Trump die verdere sanksies op Iran sedertdien moet verslap.

In sy derde verskyning voor die VN het Trump ’n sagter aanslag gehad teenoor sy bombastiese toesprake in 2017 en 2018. Hy het ook meer gepraat oor gesamentlike pleks van eensydige optrede.

Die vergadering het ook relatief stil na Trump geluister nadat hulle hom in 2018 uitgelag het toe hy gespog het met wat hy bereik het, en in 2017 toe hulle na hul asems gesnak het toe hy gedreig het om Noord-Korea uit te wis.

Daar word aanvaar dat die aanvalle op Saoedi-Arabië sowat twee weke gelede deur Iran uitgevoer is, hoewel dié land dit ontken.

Trump het hom sover nog weerhou van militêre optrede midde die kwessie, ondanks druk van sommige van sy bondgenote. Hy belowe egter dat hy met sanksies sal voortgaan om druk op Iran se ekonomie te plaas totdat die land sy kernwapenprogram laat vaar.

Iran het nog altyd volgehou sy kernprogram is net vir vreedsame doeleindes.

Trump het gesê alle nasies het ’n plig om op te tree. “Geen verantwoordelike regering sal Iran se bloeddorstigheid subsidieer nie. So lank as wat sy dreigende gedrag voortduur, sal sanksies uitgebrei word pleks van minder gemaak word.”

Rouhani het luidens ’n onderhoud wat deur Fox News Channel uitgesaai is, gesê Amerika is “ongelukkig” ’n ondersteuner van terrorisme in hul land.

“Waar Amerika ook al gaan, brei terrorisme uit. Dit is onmenslik. Sodra dit ophou sal die atmosfeer natuurlik verander,” het Rouhani gesê.

In só ’n geval sal die twee kante ooreenkomste kan bereik oor kern- en ander sake, het Rouhani gesê.

Trump het ook ’n kwaai boodskap vir Xi Jinping, die Chinese president, gehad met wie hy in ’n handelsoorlog gewikkel is.

Die wêreld kyk hoe China die situasie in Hongkong hanteer waar massabetogings en geweld nou al vir weke lank voortduur, sê Trump.

“Hoe China die situasie gaan hanteer, gaan baie sê oor sy toekomstige rol in die wêreld. Ons almal maak staat daarop dat pres. Xi ’n groot leier sal wees.”

Trump het gesê Amerika is gereed om sy vriendskap te bied aan almal wat opreg vrede en respek wil hê.

“Amerika het nog nooit geglo in permanente vyande nie. Ons soek bondgenote, nie teenstanders nie.” – Reuters

Meer oor:  Donald Trump  |  Iran  |  Vn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.