Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Trump weer in staat van beskuldiging – wat nou?

Pres. Donald Trump van Amerika het Woensdag die eerste Amerikaanse president geword wat vir ’n tweede keer in ’n staat van beskuldiging geplaas is.

Dit is die eerste stap in ’n proses wat moontlik daartoe kan lei dat hy homself nooit weer verkiesbaar sal mag stel nie.

Die Amerikaanse huis van verteenwoordigers het Woensdag met 232 teen 197 ten gunste van die staat van beskuldiging gestem, met tien van Trump se mede-Republikeine wat saam met die Demokrate gestem het.

Die huis beskuldig Trump daarvan dat hy ’n opstand gelei het nadat talle van sy ondersteuners die Amerikaanse kongresgebou verlede week bestorm het.

Die stemmery in die huis, wat deur die Demokrate beheer word, sal egter nie tot ’n spoedige verhoor in die Amerikaanse senaat, waar die Republikeine tans nog die meerderheid het, lei nie.

Die kans is dus skraal dat Trump voor die einde van sy termyn op 20 Januarie verwyder sal word. Joe Biden word op dié dag as president ingehuldig.

Die Republikein Mitch McConnell, tans nog die leier van die senaat, het die Demokrate se versoek vir ’n vinnige verhoor verwerp en sê dit is onmoontlik om ’n verhoor af te handel voordat Trump se termyn verstryk.

Indien die prosedure eers begin nadat Trump se termyn verstryk het, sal ’n skuldigbevinding deur die senaat tot ’n stemmery kan lei wat Trump sal verbied om hom ooit weer verkiesbaar te stel.

Daar is nou net een klag teen Trump – aanhitsing tot ’n opstand – teenoor twee klagte toe hy in 2019 in ’n staat van beskuldiging geplaas is. Hy is toe aangekla van magsmisbruik en regsverydeling.

Pres. Donald Trump is die eerste Amerikaanse president wat twee keer in ’n staat van beskuldiging geplaas is. Foto: Reuters

Wat is die implikasies vir Trump?

Kragtens die Amerikaanse grondwet is daar twee maniere om ’n amptenaar wat in ’n staat-van-beskuldiging-verhoor skuldig bevind word, te straf.

Die een is om hom uit sy amp te verwyder en die ander is om hom te diskwalifiseer om in die toekoms enige amp te beklee.

Wat as die senaat Trump onskuldig bevind?

Kan Trump steeds gediskwalifiseer word as hy onskuldig bevind word?

Dít is onbekende terrein waarop daar nie ’n klinkklare antwoord is nie.

Ten einde iemand uit sy amp te verwyder, word ’n tweederdemeerderheid in die senaat vereis, terwyl ’n gewone meerderheid nodig is vir diskwalifikasie.

Dit is die gebruik dat ’n stemmery oor diskwalifikasie eers ná ’n skuldigbevinding gehou word.

Daar is wel meningsverskil oor of die diskwalifikasie-klousule op die presidentsamp van toepassing is.

Watter rol kan die 14de Amendement speel?

Art. 3 van die 14de Amendement lui dat geen persoon in ’n amp toegelaat sal word as hulle betrokke was by ’n “opstand of rebellie teen Amerika nie”.

Die wysiging is ná die Amerikaanse burgeroorlog aangebring om enige Konfederasie-lede vir ’n amp te diskwalifiseer.

Die presedent in die kongres is dat ’n eenvoudige meerderheid nodig is om dit van krag te maak, maar om die diskwalifikasie te lig, moet ’n tweederdemeerderheid in albei huise van die kongres dit bekragtig.

Kan Trump hof toe gaan?

Ook dit is nie duidelik nie.

Die hooggeregshof het dit in ’n saak in 1993 duidelik gemaak dat hy nie wil inmeng by die senaat se werksaamhede nie. Maar die huidige hooggeregshof – met drie regters wat deur Trump aangewys is – sal dalk oor die wettigheid al dan nie van ’n diskwalifikasie wil beslis.

Nancy Pelosi, speaker van die Amerikaanse huis van verteenwoordigers. Foto: Reuters

Emosionele debat

Die stemmery Woensdag, in dieselfde vertrek waar talle wetmakers onder stoele moes wegkruip en gasmaskers moes dra toe die kongresgebou bestorm is, is deur ’n emosionele debat voorafgegaan.

Nancy Pelosi, speaker van die huis, het gesê Trump het mense tot opstand opgesweep en ’n gewapende rebellie teen die land gelei.

“Hy moet gaan. Hy is ’n duidelike en teenswoordige gevaar vir die nasie waarvoor ons almal lief is.”

Die Demokraat Joaquin Castro het gesê Trump is die “gevaarlikste man nóg in die Withuis”, terwyl Maxine Waters, nog ’n Demokraat, gesê het Trump wou ’n burgeroorlog begin.

Van die Republikeine meen egter die Demokrate moes hul poging om Trump in ’n staat van beskuldiging te plaas, laat vaar het sodat die nasie kan herenig en genees.

Kevin McCarthy, een van die mees senior lede van die Republikeinse Party in die huis, meen dit is ’n fout om Trump so vinnig in ’n staat van beskuldiging te plaas.

Sy teenstand hierteen “beteken egter nie die president is foutloos nie”.

“Hy dra verantwoordelikheid vir Woensdag se aanval op die kongres.”

Republikeinse bondgenote van Trump het die Demokrate daarvan beskuldig dat hulle Trump vir politieke gewin in ’n staat van beskuldiging plaas.

Jame Herrera Beutler, een van die tien Republikeine wat vir die staat van beskuldiging gestem het, sê sy kies nie kant nie.

“Ek kies die waarheid. Dit is die enigste manier om vrees te oorwin,” het Beutler gesê, terwyl talle Demokrate vir haar hande geklap het.

Die Republikeinse leiers in die huis het nie hul lede aangemoedig om teen die staat van beskuldiging te stem nie, en dit ’n “saak van individuele gewete” genoem.

Pelosi het nadat sy die dokument onderteken het dat Trump in ’n staat van beskuldiging is, gesê sy doen dit met ’n gebroke hart oor wat dit vir Amerika beteken.

Hierdie dokument sal na die senaat gestuur word sodat ’n verhoor gereël kan word.

Lede van die nasionale wag in die Amerikaanse kongresgebou nadat dit verlede week bestorm is. Foto: Reuters
Lede van die nasionale wag probeer ’n bietjie rus voordat die stemmery in die kongresgebou gehou word. Foto: Reuters
Lede van die nasionale wag patrolleer die kongresgebou voordat die stemmery begin. Foto: Reuters

Verhoor dalk eers nadat Trump se termyn verby is

Volgens die Amerikaanse grondwet moet ’n verhoor in die senaat gehou word nadat die huis die president in ’n staat van beskuldiging geplaas het.

Meer as twee derdes van die senaat moet vir ’n skuldigbevinding stem ten einde Trump te verwyder – dus minstens 17 Republikeinse senatore.

McConnell sê egter geen verhoor sal begin voordat die senaatlede moet terugkeer na die senaat nie.

Die senaat sal eers op 19 Januarie, ’n dag voor Biden se inhuldiging, terugkeer.

McConnell, wat glo woedend vir Trump is, het in ’n memorandum aan sy mede-Republikeine gesê hy is nog nie seker hoe hy gedurende die verhoor sal stem nie. Hy wil eers na die getuienis luister.

Chuck Schumer, die Demokrate se leier in die senaat wat later vandeesmaand die leier in die senaat sal word, sê dit maak nie saak wanneer die verhoor gehou word nie; maar dit sal wel gehou word.

Indien die senaat Trump skuldig bevind, sal ’n tweede stemming gehou word om hom te verbied om hom ooit weer verkiesbaar te stel.

Geen van die Amerikaanse presidente wat al in ’n staat van beskuldiging geplaas is, is al ooit uit die amp verwyder nie.

Trump is in 2019 op twee aanklagte onskuldig bevind, terwyl Bill Clinton in 1998 en Andrew Jackson in 1869 onskuldig bevind is.

Biden het intussen gesê dit is belangrik dat die senaatsverhoor nie sy taak as president oorskadu nie.

Hy hoop die senaat sal ’n manier vind om hul grondwetlike pligte uit te voer terwyl die verhoor ook gehou word.

Biden moet in die eerste dae van sy termyn met kabinet-bevestigings begin.

Die Amerikaanse federale speurdiens (FBI) het intussen gewaarsku gewapende betogings word in Washington en in al die hoofstede van die 50 Amerikaanse deelstate voor Biden se inhuldiging beplan. Reuters

Lede van die nasionale wag het ook buite die kongresgebou wag gestaan. Foto: Reuters
Nancy Pelosi, speaker van die huis van verteenwoordigers, met die dokument wat pres. Donald Trump vir die tweede keer in ’n staat van beskuldiging plaas. Foto: Reuters
Lede van die nasionale wag voor die Amerikaanse kongresgebou in Washington. Foto: Reuters


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.