Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Trump wil immigrasiewet terughou tot ná verkiesing

Pres. Donald Trump van Amerika het Republikeinse wetgewers in die Amerikaanse kongres Vrydag gevra om omvattende immigrasiewetgewing tot ná die verkiesing in November uit te stel.

Trump hoop sy Republikeinse Party sal dan meer verteenwoordigers hê om die wetgewing deurgevoer te kry.

’n Storm het die afgelope week internasionaal en in Amerika uitgebreek weens Trump se beleid dat immigrante wat die land onwettig uit Mexiko binnekom van hul kinders geskei moet word.

Hoewel die Republikeine die senaat en die huis van verteenwoordigers beheer, het hulle ’n skrale meerderheid van 51-49 in die senaat oor die Demokrate.

Om wetgewing deurgevoer te kry, het die Republikeine sommige Demokrate se ondersteuning nodig.

“Kry meer Republikeine in November verkies en ons sal die beste, mees regverdige en omvangrykste immigrasiewetgewing in die wêreld hê,” het Trump Vrydagoggend getwiet.

Pres. Donald Trump (middel) van die VSA toe hy Woensdag in die Withuis ’n uitvoerende bevel onderteken het dat migrante en hul kinders nie van mekaar geskei mag word nie. Regs is visepresident Mike Pence en links Kirstjen Nielsen, minister van gesondheid en maatskaplike dienste.Foto: Reuters

“Die Republikeine moet ophou om hul tyd te mors met immigrasiewetgewing. Wag eerder tot ná die verkiesing (in November) om meer senators en kongreslede verkies te kry.

“Die Demokrate is bloot besig om speletjies te speel en is glad nie van plan om dié probleem, wat al dekades lank met ons is, op te los nie.

“Ons kan wonderlike wetgewing deurvoer ná die rooi golf (die kleur van die Republikeinse Party),” sê Trump in die twiets.

Die huis van verteenwoordigers het Donderdag ’n voorgestelde wysigingswetsontwerp – wat deur konserwatiewes voorgestaan is – verwerp. Dit sou onder meer ’n einde daaraan bring dat kinders van hul ouers geskei word.

Dit is met 231-191 verwerp nadat 41 Republikeine ook daarteen gestem het.

Die huis het ook die stemmery oor ’n meer gematigde wet uitgestel – waarskynlik tot volgende week – om meer steun daarvoor te probeer werf.

Trump se twiets kan nou ’n einde hieraan bring.

Die Amerikaanse president het albei dié stukke wetgewing gesteun, maar dit is deur die Demokrate en immigrasie-voorspraakgroepe verwerp.

Meer as 2 300 kinders is die afgelope tyd van hul gesinne geskei en word in tentdorpe aan die suidelike Amerikaanse grens met Mexiko gehuisves, terwyl hul ouers strafregtelik aangekla word.

Die groot druk op Trump het hom Woensdag laat besluit om ’n uitvoerende bevel te onderteken dat migrante en hul kinders nie van mekaar geskei mag word nie.

Minstens tien Amerikaanse deelstate beplan om met regstappe teen Trump oor sy immigrasiebeleid te begin.

Intussen is die Amerikaanse weermag, te midde van die groot verwarring oor Trump se beleid, gevra om hom gereed te maak om tot 20 000 kinders van onwettige immigrante te huisves.

Meer oor:  Verkiesing  |  Donald Trump
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.